Die Klopse-kultuur is al jare ’n groot deel van die gemeenskap van Wellington en lê baie Wellingtonners na aan die hart.

Vir sommige is die jeug- en gemeenskapsontwikkelingsaspek ’n prioriteit en ’n eer om skares met hul unieke dans en musiek te vermaak. Alhoewel die passie ook in die verlede verdeeldheid in talle families veroorsaak het, is die spanne positief om verandering te bring.

Na aanleiding van Paarl Post se berig verlede week oor die klopsegemeenskap van Wellington wat weer eenheid wil bewerkstellig, is ’n opvolggesprek Dinsdag 9 Julie by St. Albans Primêr gehou. Hierdie inisiatief is weer eens deur die drie geesdriftige lede van Wellington klopse – Willem Walters (voormalige voorsitter), Jovan-re Cupido en Fiona Adams – gefasiliteer.

Die algemene gevoel om die dorp te verenig, is op die vergadering bevestig.

Die fasiliteerders het dit duidelik gestel dat die doel nie is om ’n nuwe liggaam te begin nie, maar slegs om by die troepe self te hoor wat die rede is waarom daar nog ’n gesukkel is om een liggaam te vorm en hoe die probleem opgelos kan word. Onderskeie troepe van al twee unies – Drakenstein Coon Carnival Association (DCCA) en Wellington Minstrels – asook lede van die gemeenskap het die vergadering bygewoon om hul menings te lug.

Behalwe die visie vir eenheid wil die troepe die Drakenstein-munisipaliteit ook nader om die proses te steun.

Die troepe wil in Desember graag ook ’n gemeenskaps- “Road March” hou om Wellingtonners te wys dat hulle poog om eenheid te herstel. Die road march sal ’n begin wees, waarna troepe wat ten gunste van eenheid is en watter nié, geïdentifiseer sal word.

Een van die troepe, Young Stars Entertainers, meen die jeug verloor belangstelling weens die skeuring en dit lei tot moontlike bendebetrokkenheid en die misbruik van dwelms.

Martina Abrahams, ’n oudbestuurslid, voel die gemeenskap moet verenig word en bereid wees om die pad te stap.

Willem Walters meen daar is mense wat die kultuur “vir ’n ride vat, en dis hoekom ons die vergadering beroep het om dit stop te sit, want van ons leiers het geen respek vir ons kultuur nie”.

Walters voel dit is tyd vir ’n nuwe geslag om die leisels te neem.

’n Opvolgvergadering word Dinsdag 30 Julie 19:00 by St. Albans Primêr gehou. Alle gemeenskapslede wat ’n positiewe bydrae wil lewer, word uitgenooi. Vir enige navrae bel Willem by 082 697 2179, Fiona 066 285 2542 of Jovan-re 073 296 3575.

You need to be Logged In to leave a comment.