Reservis vir 21 jaar, nou in bediening

Ná 21 jaar by die Wellington-polisie het Jacobus Kevin Fortuin, ’n adjudant-offisier in die reserwe-eenheid, besluit om die tuig neer te lê en hom op die Christelike bediening toe te spits.


Ná 21 jaar by die Wellington-polisie het Jacobus Kevin Fortuin, ’n adjudant-offisier in die reserwe-eenheid, besluit om die tuig neer te lê en hom op die Christelike bediening toe te spits.

Die 64-jarige Fortuin het hom op 14 September 1995 as reservis by die Wellington-polisiestasie aangesluit.

Een van die groot motiverende faktore vir dié besluit was om mense te help en ’n verskil te maak, veral ná die moord op sy broer in Desember 1994.

Fortuin het die verantwoordelikheid op homself geneem om die verdagte op te spoor en te laat aankeer. Die verdagte het egter later losgekom weens ’n gebrek aan getuies.

Fortuin het in April 1995 pakket gevat by die departement van gesondheid waar hy as voorligtingsbeampte gewerk het en toe besluit om die polisie by te staan om misdaad te bekamp. “Ek het besluit dat so iets nie weer in my teenwoordigheid sal gebeur nie. Ek wil mense help en ’n verskil maak.”

Hy sê sy tyd in die polisie was baie interessant. “Ons het vroeër baie gaan uithelp by feeste. Hulle het ons maar afgevaardig na gedeeltes waar meer polisiëring nodig was.”

Hy sien die rol van ’n reservis as een om die polisie aan te vul. “Ons is bondgenote in misdaad.”

Hy sê reserviste spits hulle hoofsaaklik daarop toe om B-misdrywe aan te spreek. Dit sluit in: drink in die openbaar, oproerige gedrag, urinering in die publiek en die verwydering van drentelaars of enige bron van gevaar.

“Wanneer ons aan diens in ons uniform is, het ons dieselfde magte as ’n polisieman, dieselfde arrestasiemagte.”

Ná meer as twee dekades by Wellington-stasie, is Fortuin nie net die langsdienende reservis uit die gemeenskap nie, maar ook die langsdienende hoofreservis nadat hy 26 Mei 2004 as hoof van die reserviste aangestel is. Hy was ook die reservis hier met die hoogste rang. In sy tyd as reservis is daar ook geen noemenswaardige of grondige klagte teen hom ingedien nie, iets waarop hy trots is.

Stasiebevelvoerder kol. Johan Barkhuizen het Fortuin bedank vir die aantal jare wat hy diens verrig het. “Hy het ondersteuning aan my gebied omdat ek ekstra lede kon ontplooi. Hy het die rol van hoofreservis geneem en daarvoor sê ek dankie. Ek hoop dat hy die polisie se naam hoog sal hou en mense sal motiveer om aan te sluit as reserviste.”

Fortuin het ’n daadwerklike beroep op die gemeenskap gedoen om hulle as reserviste by die polisie aan te sluit.

Hy sal hom voortaan op Christelike evangelisasie toespits. Hy het in 2008 met deeltydse studie begin en in 2011 sy nasionale diploma in die Christelike bediening gekry.

Daarna het hy sy graad in teologie aangepak wat hy in Maart 2014 met welslae voltooi het.

Fortuin sê hy sal dus steeds aktief in die gemeenskap betrokke wees.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.