Die Amerikaanse akteur en rolprentmaker, Tyler Perry, se splinternuwe drama Straw is Vrydag (6 Junie) op die internasionale stroomdiens Netflix vrygestel. Rasaad Adams gee sy indrukke oor hierdie aangrypende verhaal wat die afgelope naweek talle aan die gons (en huil) gehad het. Hierdie artikel bevat spoilers.
Hou die sneesdoekies byderhand want dié nuwe Tyler Perry-fliek weerspieël die harde realiteit van hoe talle enkelouers alles in hul vermoë sal doen om nie net kos op die tafel te sit nie maar ook maniere moet vind om die emosionele trauma van swaarkry en verlies te oorkom.
Die drama is ’n intense blik op die daaglikse stryd van swart enkelmoeders in Amerika, met ’n spesiale fokus op hoe die samelewing hulle keer op keer in die steek laat.
Straw, geskryf en vervaardig deur Tyler Perry, die Amerikaanse akteur en rolprentmaker, is Vrydag (6 Junie) op die internasionale stroomdiens Netflix vrygestel.
Dit vertel die verhaal van die enkelma Janiyah Wiltkinson, wat deur die bekroonde aktrise Taraji P. Henson vertolk word.
Dat so baie tragiese gebeure iemand binne 24-uur kan tref is darem maar werklik hartseer.
As dit nie genoeg is dat haar dogterjie, Aria (Gabby Jackson) ernstige asma-probleme ervaar nie, verloor Wiltkinson haar werk, sy word weens uitstaande huurgeld uit haar woonstel geskop en die hoof storielyn – sy word by ‘n moordsaak en bank rooftog betrek.
Al hierdie gebeure het egter gespruit uit misverstande en die uitdagings wat met klein Aria se siekte verband hou.
Wiltkinson wou eenvoudig ‘n tjek by die plaaslike bank gaan losmaak om haar huur te betaal en ‘n geldjie vir Aria se middagete by die skool.
Sy stap toe met ‘n geweer die bank binne, wat vroeër gebruik is om haar voormalige werkgewer dood te skiet, asook een van klein Aria se wetenskap-projekte wat soos ‘n bom lyk.
Dit was nooit haar intensie om die bank te beroof nie. Sy het nie gedink hierdie skool-projek sal soos ‘n bom lyk nie.
Sy wou net die tjek losmaak. Sy wou net hê Aria moes, soos die res van haar skoolmaatjies, ‘n vullende middagete geniet.

Die storielyn het ‘n skokkende en hartseer wending aan die einde wanneer ons uitvind dat Aria eintlik reeds dood is. Die vorige dag al.
Ons het dus die storie deur Wiltkinson se oë gekyk. Haar manier van die trauma van Aria se afsterwe te hanteer het was om haar eie ‘waarheid’ te skep – dat Aria nog lewe.
Daardie enkele dag, waarin alles wat moontlik verkeerd kon gaan, verkeerd gegaan het, het begin met haar en Aria wat in hul klein beskeie woonstelletjie wakker word. Wiltkinson laai dan vir Aria by die skool af en dan volg die gebeure by haar werk en die rooftog by die bank.
Klein Aria was agter nooit daardie dag langs haar sy nie en vir ander het sy sekerlik versteurd voorgekom.
Baie van die tonele waarin Aria dus voorkom, van die skool tot die hospitaal, is deel van hallusinasies veroorsaak deur trauma en rou.
Hierdie aan die einde wending spreek dus van die emosionele las van ouerskap en die verlies van ‘n kind. Jou enigste [spesiale] kind.
Die skrywer gebruik dan ‘n oop-einde-taktiek om die verhaal mee af te sluit wat ons laat wonder of die einde gebaseer is op Wiltkinson se ‘waarheid’ of die werklike storielyn.
Is hierdie drama ‘n spieël van die samelewing?
Hoewel dit in Amerika afspeel kan so baie enkelouers ook hier in Suid-Afrika tog aanklank vind by Wiltkinson se stryd om net die beste vir haar enigste kind te wil hê.
In Suid-Afrika sien ons ook hoe die uitdagings wat enkelma-wees van generasie tot generasie oorgedra word.
Nes Wiltkinson ken ons ook mammas wat die stryd stil-stil aansê maar tog die lieflikste mense is. Mammas wat selfs met die min wat hulle het, dit met haar bure sal deel.
Nes Wiltkinson weet ons ook van mammas wat net-net genoeg verdien om brood op die tafel te sit, maar tog sorg dat hul kinders ‘n goeie opvoeding kry.
Nes Wiltkinson weet ons ook van mammas wat, dikwels onder moeilike omstandighede, daardie ekstra lang ure by hul werk moet insit.
Nes Wiltkinson weet ons van mammas wat deur die samelewing gefaal is. Aan wie daar nie betyds hulp gebied is nie. Wie se oproepe om hulp nie betyds gehoor is nie.
Ja, Wiltkinson is deur baie, maar ondanks alles het sy deurgedruk. Sy het baklei vir haar en haar kind se waardigheid – iets wat niemand ooit van ons kan ontneem nie.
Dit is inderdaad ‘n aangrypende en goeie drama!
You must be logged in to post a comment.