Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee het verlede week uiteindelik besluit om die rentekoers met 25 basispunte te verlaag.

Dit bring die rentekoers nou op 8% te staan.

Dit volg nadat die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) verlede week sy rentekoers met 50 basispunte verlaag het – die eerste verlaging in meer as vier jaar.

Lesetja Kganyago, die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, sê die monetêrebeleidskomitee het konsensus bereik op 25 basispunte omdat dit in ooreenstemming is met volhoubare laer inflasie in die medium termyn.

Daar word nou voorspel dat die rentekoers volgende jaar tot effens meer as 7% sal stabiliseer.

“Die monetêrebeleidskomitee sal voortgaan om data-afhanklik en sensitief te wees vir die balans van risiko’s vir die vooruitsigte,” sê Kganyago.

Die voorsitter van Drakenstein Sakekamer, Dirk Breytenbach, sê die sakekamer neem kennis van die aangekondigde verlaging in die rentekoers.

“Dit is ’n stap in die regte rigting en in ooreenstemming met rentekoerse in die VSA en elders. Dit word nou ’n wêreldwye tendens wat verligting oor ’n breë front kan bring.

“Suid-Afrikaanse verbruikers kreun onder verbandbetalings wat vererger word deur die drakoniese elektrisiteitstariefverhogings wat reeds kritieke afmetings bereik het.

“Die rentekoersverlaging skep hoop en ons vertrou dat rentekoerse in die kort tot medium termyn standhoudend gaan daal, wat die stimulasie van besteebare inkomste op alle vlakke van die ekonomiese landskap positief behoort te verseker.

“Ons hou die tendens met verwagting dop,” het Breytenbach bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.