Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) sê hy het vanjaar ’n rekordgetal aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders vir die volgende skooljaar ontvang.
David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, sê: “Teen die tyd dat die 2025-toelatingsgleuf om 23:59 op Vrydag 12 April gesluit het, het ons aansoeke vir ’n rekord- 102 680 graad een- en graadagt-leerders ontvang. Dit is ’n toename van 5 936 teenoor verlede jaar se betydse aansoeke, waartydens aansoeke vir 96 744 graad een- en graad agt-leerders ontvang is. Ons bedank die ouers wat moeite gedoen het om betyds aansoek te doen en ons te help beplan vir ’n plek vir hul kind in ’n skool volgende jaar.”
Alle aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders wat nie tussen 11 Maart en 12 April ingedien is nie, sal as ’n laat aansoek beskou word, sê Maynier. Hy voeg egter by ouers kan tot 12 Mei steeds laat aansoeke aanlyn indien, maar dit sal steeds as laat aansoeke hanteer word en sal geen voorkeur kry bo die aansoeke wat betyds ingedien is nie.
“Ouers van graad een- en graad agt-leerders wat besluit om na die Wes-Kaap te verhuis nadat laat aanlyn aansoeke op 12 Mei gesluit het, of wat om enige ander rede nie voor hierdie datum aansoek gedoen het nie, sal hul distrikskantoor so gou as moontlik vir bystand moet kontak. Ons doen ’n beroep op ouers om nie tot die laaste minuut te wag om aansoek te doen nie. Die tydgleuf vir graad R-aansoeke en oorplasingsversoeke vir graad twee tot graad sewe en graad nege tot graad 11 sal van 1 tot 16 Augustus strek.”
Maynier vra ouers moet geduldig wees terwyl skole al die aansoeke verwerk.
“Ouers sal van 30 Mei af die uitkomste van hul aansoeke aanlyn begin sien, en ons sal hulle daaraan herinner namate die datum nader kom. Die datum is met ’n dag verskuif weens die openbare vakansiedag vir die algemene verkiesing. Ouers moet suksesvolle aanbiedinge voor 14 Junie aanvaar of van die hand wys, en ons moedig hulle aan om dit so gou as moontlik te doen.”
Maynier sê dit is belangrik dat ouers ’n skool se aanbieding so gou as moontlik aanvaar sodat die departement aanbiedinge beskikbaar kan stel aan ander leerders wat nie aanvaar is nie.
“Indien ouers nie hul keuse teen 14 Junie bevestig het nie, sal die stelsel outomaties hul topgekeurde skool bevestig wat ’n aanbod gemaak het. Alle ander aanbiedinge sal dan verwyder word sodat daardie plekke aan ander leerders gebied kan word. Ouers wat nie ’n aanbod op 30 Mei ontvang nie, moenie moedeloos wees nie – plekke gaan gedurig oop namate ouers hul finale keuses bevestig.”
Terloops, Maynier het verlede maand tydens sy begrotingstoespraak gesê dat die WKOD beplan om R30,85 miljard op onderwys in die Wes-Kaap te bestee.
Dit sluit onder meer in R860 miljoen vir hul vinnige-skoolbou-infrastruktuurprogram, R57,5 miljoen vir veiligheidsuitdagings en R144 miljoen om die gebruik van groen-energie-oplossings te ontwikkel.