Ná drie maande sal rugbyliefhebbers weer regstreekse rugby op die kassie kan geniet.
Nieu-Seeland se vyf Superrugby-spanne sal vanaf 13 Junie weekliks om 09:05 op Saterdae en om 05:35 op Sondae in hul eie verkorte toernooi, Superrugby-Aotearoa, kragte meet.
Elke span speel in agt wedstryde – vier tuis en vier weg. Daar is elke naweek twee wedstryde tussen vier spanne. Die ander span het dan ’n loslootjie (oftewel ’n “bye”).
Dié reeks is die eerste regsteekse rugby sedert die Superrugby-seisoen Maart weens die Covid-19-pandemie opgeskort is.
Aangesien Nieu-Seeland tans geen aktiewe korona-gevalle het nie, sal toeskouers boonop die wedstryde kan bywoon.
In ’n interessante nuwe wending sal daar twee nuwe reëls bykom.
Indien spanne teen die einde van ’n wedstryd gelykop is, sal tien minute ekstra bygevoeg word sodat die wedstryd deur ’n ‘goue punt’ beslis kan word.
’n Speler wat ’n rooikaart ontvang het, sal ook nou ná 20 minute vervang kan word en dus hoef sy span nie vir die hele wedstryd met 14 manne oor die weg te kom nie.
Weens kritiek oor die gebrek aan tyd wat die bal aan die gang is, sal skeidsregters ook by die losgemaal strenger blaas, die aantal skrum ‘resets’ beperk en op die uitkyk wees vir siniese spel.
Rugby Australië het ook aangekondig dat hul plaaslike reeks na verwagting op 3 Julie sal afskop.
Dit is nog onduidelik presies wanneer Suid-Afrika met ’n soortgelyke plaaslike reeks sal begin, maar daar is reeds planne in die pyplyn.
Daar is egter steeds groot onsekerheid vir die Jaguares van Argentinië. Minder as ‘n jaar sedert hulle in die Superrugby-eindstryd meegeding het, het die Jaguares nie die moontlikheid om aan ‘n plaaslike kompetisie deel te neem nie, selfs al word hul grendeltyd opgehef.
Die Argentynse rugbyunie (UAR) het selfs die weg gebaan vir die Jaguares-spelers om by buitelandse klubs aan te sluit sodat hulle wedstrydfiksheid kan behou.
Bronne: Super Rugby, rugby.com.au, nzherald.co.za, netwerk24