Die hooggeregshof in Kaapstad sal op 17 Oktober ’n saak deur die Stellenbosch-munisipaliteit aanhoor waarin hy aksie eis teen die eienaar van ’n stuk grond in Birdstraat in Stellenbosch waar twee studente in Oktober 2022 dood is toe hul voertuig in ’n gat van ’n verlate bouperseel beland het.
Erf 7565 in Birdstraat is die toneel waar Leila Lees (18) en Ethan Kirkland (19) in Oktober 2022 gesterf het toe hul Subaru Forester onderstebo in die gat in die middedorp beland het.
Die gat (steengroef) was in daardie stadium met water gevul.
Die gat op die perseel was deel van ’n ontwikkelingsprojek wat bykans drie dekades gelede gestaak is toe die ontwikkelaars glo nie aan sekere bouvereistes voldoen het nie.
Lees en Kirkland was albei studente aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Die tragiese voorval het in daardie stadium weer Stellenbosch-inwoners, wat al jare kla oor die gevaar wat die verlate bouperseel inhou, aan die praat gehad.
“Indien ’n ordentlike muur om die perseel gebou was, sou dit dalk verhoed het dat daardie jongmense hul lewe verloor het. Dis ’n gat waarin enigiemand gegooi kan word. Vroue kan hier verkrag word,” het Stephanie Heneke, ’n nabye inwoner, in daardie stadium aan News24 gesê.
In die vroeë 1990’s is goedkeuring gegee vir ’n multi-residensiële gebou om op die grond ontwikkel te word. Die eienaar het egter nie aan sekere bouvereistes voldoen nie en geweier om ’n voorgeskrewe glipbaan te ontwikkel wat gebruik sou word om toegang tot die eiendom te kry.
Die munisipaliteit het verlede week in ’n verklaring gesê oor die jare was daar baie gesprekke oor erf 7565.
“Die munisipaliteit het deurgaans met die eienaar van die eiendom geskakel in pogings om die ontwikkeling van die terrein te fasiliteer. Verskeie ingrypings en voorstelle is deur die munisipaliteit voorgehou om die proses te bespoedig.”
Die munisipaliteit het toe kennisgewings aan die eienaar van die eiendom uitgereik toe geen gehoor aan hul versoeke vir veranderinge gegee is nie. Die munisipaliteit het onder meer die herstel van die eiendom vereis, insluitend die rehabilitasie van die uitgrawings.
“Nadat alle moontlike weë uitgeput is om hierdie aangeleentheid op te los, het die munisipaliteit geen ander keuse gehad as om ’n regsverteenwoordiger aan te stel en die saak hof toe te neem nie.”
Die saak sal op 17 Oktober in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.
“Ons vertrou dat dit ’n belangrike stap sal wees om die volle rehabilitasie van die eiendom te verseker,” lui die munisipaliteit se verklaring.
Hy vra die hooggeregshof om ’n bevel uit te reik om die eienaars van die eiendom te verplig om die onwettige uitgrawing te herstel en die veiligheid en stabiliteit van die terrein te herstel.
In reaksie hierop het die eiendom se eienaars opponerende dokumente ingedien, waarop die munisipaliteit reeds sy antwoord ingedien het, het Netwerk24 verlede week berig.