Die situasie by die ou geplunderde poskantoor langs die Hugenote-treinstasie vererger by die dag, met rommel wat ook nou op die perseel gestrooi word.Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipa­liteit sê hy is nou raadop nadat verskeie versoeke aan regeringsinstansies soos Prasa en Transnet om die plundering en rommelstrooi­ery by die ou Paarlse poskan­toor te stop, op dowe ore geval het.

Die munisipaliteit het verlede week gereageer op ’n inwoner se Facebook-inskrywing waarin hy kla oor die impak van die geplunderde gebou op naburige buurte.

“Wat het van jul ‘beleid’ geword dat die plaaslike munisipaliteit sal skoonmaak waar die eienaars van die eiendom dit nie doen nie en die rekening aan die eienaar oorhandig word?” wou die inwoner weet.

“Wonder maar net. Dis seker nie so moeilik om Transnet in die hande te kry nie. Dis ’n broeiplek vir snaakse aktiwiteit,” het die inskrywing verder gelui.

Die inskrywing het aanvanklik verwys na die hoop vullis voor die geplunderde gebou en hoe dit ’n seer oog vir die omgewing geraak het.

In sy reaksie hierop het die munisipaliteit gesê “hierdie soort besoedeling is heeltemal onaanvaarbaar”.

“Daarom is ons deurgaans besig met vullisverwyderings­dienste en bewusmaking om die Drakenstein-omgewing skoon, gesond en ’n lus vir die oog vir ons inwoners, sakeondernemings, beleggers en besoekers te hou.

“Die Drakenstein-munisipaliteit het Transnet die afgelope jaar en ’n half herhaaldelik gekontak en versoek om hierdie gebied skoon te maak. Ons het ’n hele paar keer met Transnet vergader en hulle ’n sperdatum vir die verwydering van die vullis gegee.”

Die munisipaliteit sê ten spyte daarvan dat hy daarna verskeie kere met Transnet opgevolg en hulle gemaan het, het die instansie “nie gehoor gegee nie”.

“Daarom het ons die saak by die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning aangemeld, wat die Groen Skerpioene betrek het om Transnet te dwing om die besoedelde omgewing onmiddellik op te ruim,” het die munisipaliteit se kommentaar verder gelui.

Paarl Post het verlede maand berig oor die vinnige agteruitgang van die reeds geplunderde ou poskantoor. Die gebou word al vir ’n geruime tyd deur vermoedelik haweloses, maar ook vandale beset.

Ernstige vandalisme het volgens ondernemings in die nabye omgewing sedert Desember verlede jaar begin plaasvind, met ’n groot deel van die dak asook feitlik al die vensters wat sedertdien vernietig is.

David Frost, voorsitter van die Paarl-belastingbetalers­vereniging, het toe sy stem dikgemaak en gesê dié perseel en talle ander verlate geboue is ’n seer oog.

“Dit is ’n skande dat die nasionale regering toelaat dat geboue in sy besit en beheer tot so ’n toestand verval. Die Drakenstein beskik wel oor plaaslike wetgewing wat gebruik kan word as ’n middel om die nasionale regering aanspreeklik te hou,” het Frost aan Paarl Post gesê.

Hy sê inwoners is geregtig op ’n veilige en skoon omgewing.

“Op die ou einde gaan dit oor die sinlikheid en aansien van die dorp. Geboue is veronder­stel om aantreklik te wees vir die bewoners van ’n omgewing. Dit kan nie in so ’n staat van verval wees nie.”

Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het by vorige navraag aan die koerant gesê die gebou behoort aan die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa).

“Die Drakenstein-munisipaliteit deel in die kommer oor veiligheid onder inwoners en sakeondernemings. Ons het die kwessie al op verskeie geleenthede met Prasa geopper en eers onlangs terugvoer van hom ontvang.”

Volgens Johaar het Prasa die munisipaliteit ingelig dat ’n potensiële huurder belangstelling in die gebou toon.

Prasa het vandeesweek teen druktyd ook nog nie op Paarl Post se navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article