Die mediese vakbond Samatu asook die DA in die Wes-Kaap sê dit is weens ’n gebrek aan doeltreffende administratiewe prosesse oor finansiering binne die nasionale regering dat bykans 800 gekwalifiseerde jong dokters sukkel om internskappe en werk by staatshospitale in die land te kry.
Dié syfer is ná ’n onlangse peiling deur Samatu aangemeld.
Volgens dr. Cedric Sihlangu, hoofsekretaris van Samatu, is dit kommerwekkend dat die regering nie pogings aanwend om dokters aan te stel nie, aangesien die meeste staatshospitale volgens hom reeds ’n tekort aan mediese personeel ervaar.
“Daar is hospitale en klinieke waar een dokter honderde pasiënte moet ondersoek. Mediese personeel is oorwerk. Ek kan dus nie verstaan hoekom ons nie meer dokters in die stelsel kan kry nie,” het Sihlangu vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Hy sê die regering is besig om jong dokters te faal.
“Hulle het werk aan hierdie studente belowe in ruil vir internskappe en hul verpligte gemeenskapsdiens. Hierdie studente het so te sê voltyds by hospitale en klinieke gewerk. Hulle het ure en ure ingesit net om nou die deur gewys te word.
“In die groter prentjie moet ons besef hierdie jong dokters kan enige oomblik besluit om eerder hul kwalifikasie elders te neem en dalk oorsee te gaan werk. So verloor ons dokters wat ’n aanwins vir ons gesondheidsorginstellings kon wees.”
Sihlangu sê Samatu het oplossings vir die kwessie by beide die provinsiale en die nasionale regering geëis.
“Die realiteit is dat meer as 80% van ons land se bevolking afhanklik is van die staat se gesondheidsorg. Ons mense kan eenvoudig nie private gesondheidsorg bekostig nie.
“Dit is ’n demokratiese reg vir elke burger om gehalte- en waardige gesondheidsorg te ontvang. Dit is dus die regering se plig om toe te sien dat ons hierdie dokters in die stelsel kry.”
Hy sê Samatu het tot op hede geen terugvoering op hul vrae ontvang nie.
Gerrit Pretorius, die DA in die Wes-Kaap se woordvoerder oor gesondheid en welstand, sê die verantwoordelikheid berus by die nasionale regering om toe te sien dat provinsiale departemente die nodige finansiering vir poste by staatshospitale ontvang.
“Die waarheid is dat die nasionale regering homself bankrot besteel en gekorrupteer het. Verskeie provinsies se gesondheidsdepartemente, insluitend die Wes-Kaap, is verlede jaar gedwing om hul begrotings te sny om vir salarisverhogings vir staatswerkers voorsiening te maak.
“Ten spyte van hierdie gedwonge besnoeiings kort ons steeds 22% van die bedrag wat nodig is net om hierdie salarisverhogings te betaal.”
Pretorius het verwys na ’n hospitaal in George wat nie te lank terug nie twee chirurge verloor het.
“Daardie poste is steeds nie gevul nie omdat die nasionale departement versuim om dit te finansier. Chirurge speel ’n kritieke rol in enige hospitaal en ons kan nie eens bekostig om hulle te betaal nie.”
Die nasionale gesondheidsdepartement het onlangs in ’n verklaring gesê altesaam 2 101 student-dokters is teen 2 Januarie vanjaar by verskeie hospitale vir hul verpligte gemeenskapsdiens geplaas.
“Die departement erken dat ’n persentasie van sekere kategorieë van gesondheidsberoepe, insluitend omgewingsgesondheidspraktisyns en radio- en fisioterapeute, nie vir gemeenskapsdiens geplaas kon word nie weens ’n tekort aan gefinansierde poste in sekere provinsies.
“Ons werk in oorleg met die provinsiale gesondheidsdepartement om toe te sien dat alle kwalifiserende kandidate by ons hospitale geplaas word,” lui die verklaring.
Die departement sê hy kommunikeer voortdurend met alle aansoekers wat geraak word.


