’n Herhaling van verlede jaar se oorstromings het verlede week in Annie Benjaminstraat in Paarl-Oos voorgekom.
Stormwater het vroeg Donderdag (25 Augustus) terwyl die reën aanhoudend neergestort het, uit ’n mangat by die aansluiting van Annie Benjamin- en Gert Thomasstraat geborrel en pad-af en op die sypaadjie gestroom.
Verlede jaar, toe ’n swaar bui reën geval het, is inwoners hier se erwe deurdrenk met water en het water ook by motorhuise en tuinwoonstelle ingespoel.
Dit is egter nie net hier waar water nie behoorlik deur die stormwaterstelsel afgevoer kon word nie – water het in verskeie gedeeltes van die dorp ook in die strate afgeloop.
Paarl Post het sowat twee weke gelede – toe water ook in verskeie strate in die dorp opgedam het – ’n klagte hieroor ontvang.
Die klaer het gesê omdat die paaie vol slaggate is, was dit moeilik vir motoriste om te sien of die water net in die straat opdam en of dit dalk ’n slaggat vol water is waardeur hulle moet ry – totdat dit te laat is.
Marius Wüst, uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste by die munisipaliteit, het twee weke gelede gesê die munisipaliteit maak die hele munisipale stormwaterstelsel so gereeld as moontlik skoon en verwyder goed wat dit verstop – hoofsaaklik rommel en blare.
“Hierdie skoonmaak van die hele stelsel word minstens twee keer per jaar gedoen met aanvullende skoonmaakaksie wat by brandpunte gedoen word. Rommelstrooiery deur die publiek veroorsaak verstoppings, en is steeds ’n enorme probleem. Uiteraard veroorsaak blare, wat in die herfs en winter afval, verdere verstoppings, soos dié by die Paarlse burgersentrum. Hierdie spesifieke punt is een van die brandpunte, en word meer gereeld skoongemaak.
“Die intensiteit van plaaslike reënval het verhoog, en dus word die stelsel ook hierdeur oorlaai wat opdamming tot gevolg het,” het Wüst gesê.
Wüst het ook gesê die vorming van slaggate op paaie neem gedurende die reënseisoen drasties toe en dit is ongelukkig so dat slaggate nie in nat omstandighede behoorlik herstel kan word nie.
“Die gevul met gruis is net ’n tydelike oplossing, en slaggate word deurlopend herstel soos en wanneer dit moontlik is,” het Wüst beklemtoon.
“Die munisipaliteit vra die publiek om asseblief slaggate met hul spesifieke posisies via ons SeeClickFix-toepassing of by 080 131 3553 tolvry of per e-pos by customercare@drakenstein.gov.za aan te meld.”
Teen druktyd het die munisipaliteit nog nie op navrae oor wat hy gaan doen om die jaarlikse probleem in Annie Benjaminstraat op te los, reageer nie.


