Nog geen arrestasies is gemaak na die onlangse inbrake op gasteplase in Frasnchhoek nie, het kol. Frederick Roussouw, stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie bevestig. Foto: Jana Scheepers

Die jongste inbraak op 12 Oktober op ‘n gasteplaas genaamd Courchevel in Franschhoek is een van minstens agt die afgelope twee maande, beweer ‘n bron wat vertroud is met die vlaag inbrake wat dié toeristedorp tans teiken.

Volgens die bron het die voorval tussen 01:00 en 01:30 plaasgevind en tegnologiese toerusting is gesteel.

Kol. Frederick Russouw, die stasiebevelvoerder by die Franschhoek-polisie, het die voorval bevestig.

Rowers het glo in die vroeë oggendure drie mense – een Suid-Afrikaner en twee Amerikaners – wat in ‘n kothuis op Courcheval in Uitkykstraat in Franschhoek geslaap het, oorrompel, het die bron gesê. Dié plaas is ‘n klipgooi van die Chamonix-wynlandgoed- en gasteplaas waar gaste op 2 Augustus deur drie rowers oorrompel en só erg aangerand is dat hulle in die hospitaal opgeneem moes word nadat hulle van hul besittings beroof is.

Volgens die bron, wat verkies om anoniem te bly, is die gaste op Courcheval nie beseer nie, maar wel vasgebind, waarna hulle die paniekknoppie, wat nooddienste na die gasteplaas ontbied het, gedruk het.

LEES OOK: Rowers teiken gasteplaas op Franschhoek

Russouw het gesê drie verdagtes word by die inbraak op Courcheval betrek . Drie verdagtes word ook in verband met die inbrake op Chamonix, die Terra de Luc-gasteplaas op 8 Junie en die Val d’Or-landgoed op 31 Mei gesoek.

Vier vroue is op 8 Junie omstreeks 02:00 op Terra de Luc deur drie mans oorrompel. Die rowers het blykbaar twee vroue vasgebind en beveel om op die maag te lê terwyl die ander twee vroue op die bed gesit het. In die voorval op Val d’Or in Hoofstraat is ‘n soortgelyke modus operandi gevolg, waar drie mans toegang tot ‘n wooneenheid verkry en die twee gaste aangeval het deur een in die been te steek. In al die voorvalle is elektroniese toestelle en juweliersware gesteel.

Volgens Russouw is ‘n poging tot huisbraak op 11 Oktober net voor middernag aangemeld toe iemand by ‘n ander perseel in Franschhoek probeer inbreek het.

Volgens Russouw kan hy geen beskrywings van dié verdagtes bekendmaak nie.

Die bron beweer die voorval op Courcheval is een van minstens agt die afgelope twee maande en dat die verdagtes blykbaar in Groendal tuis is. Een verdagte, ‘n man, is glo bekend aan die Franschhoek-gemeenskap en sy besonderhede is aan die Franschhoek-polisie oorhandig. Die bron voer aan dat die polisie nog nie teen hierdie verdagtes opgetree het nie.

Russouw het in reaksie hierop gesê hy het nie die presiese syfers nie, maar het bevestig dat “ongeveer vier tot vyf sake van huisroof” hierdie jaar aangemeld is asook ‘n onbekende aantal klagtes van huisbrake of diefstal op plase.

LEES OOK: Franschhoek: Gasteplaas betwis bewerings van polisievertraging

Volgens hom is die Franschhoek-polisie bewus van die drie verdagtes en het ook reeds mense ondervra, maar niemand kon in hegtenis geneem word nie omdat geen verdagtes wat in die polisie se visier is, nog aan die rooftogte op gasteplase gekoppel kan word nie.

Die bron het verduidelik hulle glo om hierdie voorvalle in die media te openbaar, die polisie in hul ondersoeke verantwoordbaar sal hou.

Paarl Post het na die Courcheval-gasteplaas uitgereik, maar die bestuur wou geen kommentaar lewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.