Baie mense praat oor die baie hoë basiese kragheffings waarmee die Drakenstein-munisipaliteit homself verryk en die man op straat arm laat.
En die munisipaliteit se finansiële bestuurder se vertolking hiervan klop nie met my boeke nie.
Bradley Brown – toe koopkragmeters uitgebring is, is die basiese kragheffings gestaak! Toe skielik is dit weer op ons rekeninge.
Om R700 net so af te staan vir basiese krag is mos sinneloos en eintlik diefstal.
Weet jy, mnr. Brown, hoeveel armes word nou teen die spoed van lig hieroor armer? Wesies en weduwees, pensioentrekkers – noem maar op.
Waar gaan dit eindig?
Dis dieselfde met erfbelasting. My huis is ná baie jare klaar betaal. Maar julle tariewe en belastings kos my nou die afgelope paar jaar meer as wat ek vir my huis betaal het.
Erfbelasting vanaf 60 jaar oud vir bejaardes kan ook gerus gestop word, want ons geld raak nie meer nie, maar minder!
Nee wat, gaan sit om ’n tafel; kyk na julle dorpsmense wat swaar betaal aan jul munisipaliteit. Julle sal moet besin – ernstig ook – oor ons mooi dorp se mense wat julle verarm.