Dit is met skok om vandeesweek te verneem van ’n Kaapse bergluiperd wat opsetlik in die Agter-Paarl – vermoedelik deur plaaswerkers – in ’n strik gevang is. Selfs beeldmateriaal, van hoe die dier afgeslag word, het die rondes gedoen.
Gewoonlik is daar blydskap vanuit talle oorde as die skaars en skaam Kaapse luiperd op kamera vasgelê word, so ook ander wilde diere wat bykans in die Boland-gebied uitgesterf het.
Paarl Post het juis vroeër vanjaar berig oor so ’n luiperd wat vir die eerste keer in jaar in Paarlberg opgelet is.
Daar is ook elke nou en dan waarnemings van rooikatte in die berg wat ook baie verfrissend is.
Ongelukkig het Paarl Post ook sowat ’n jaar gelede berig oor ’n rooikat wat teen die hange van Paarlberg in ’n slagyster gevang is en daar gelaat is om ’n stadig en pynlike dood te sterf.
Eens het ons gebied gewemel met wild, maar toe kom “die beskawing” en ons wilde diere is grootliks uitgewis.
Dit is goed om te weet daar is nog ’n handjievol wilde diere wat op ons drumpel rondloop. Maar tog voel sekere mense dat dit steeds nodig is om die skaars wild wat oorbly, uit te wis.
Die Kaapse wynlande is die mees volhoubare wyngebied in die wêreld as dit kom by natuurskoon, en sulke waansinnige optredes sal beslis ’n erge demper plaas op dié gebied en sy reputasie as ’n wêreldbestemming.