Rangers het die Paarl-streek se ligavoorloper, Young Gardens, Saterdag bloed laat sweet voordat laasgenoemde ’n riller-stryd in die Dal Josaphat-stadion met 33-30 gewen het.
Rangers was blitsig uit die blokke en was in ’n stadium met 17-3 voor.
Gardens het die wedstryd eers diep in beseringstyd beklink met ’n skitterende drie deur die vleuel Marchen Engelbrecht, wat vir die verdedigers hakskene gewys het op ’n lopie langs die linkerkantse kantlyn af. Dit het die telling 31-30 in Young Gardens se guns gemaak.
Keagan Whitten (losskakel) het 2 punte bygevoeg en die eindfluitjie het tot groot blydskap van Gardens se ondersteuners geblaas.
Rangers kan met reg beroof voel, want die skeidsregter het ekstra lank beseringstyd geblaas wat Gardens in staat gestel het om die kastaiings uit die vuur te krap.
Young Gardens verdien egter lof vir hul kanniedood-houding en bereidwilligheid om tot die bitter einde te veg.
Young Standards het op Simondium ’n naelskraapse oorwinning met 27-25 oor die tuisspan behaal om hul 2de plek op die punteleer te behou. Hulle het nog een wedstryd – teen Riverstones – oor om die eerste ronde te voltooi.
Standards het 30 punte ná 7 wedstryde teenoor Young Gardens se 32 ná 8.
Laer-Paarl het Violets 40-10 getroef en Riverstones het Pêrel United ’n loesing van 39-5 toegedien.
Die Saterdag is daar geen wedstryde van die Paarl-streek nie. Die liga word op 24 Junie hervat.