Die afgelope naweek was ’n historiese geleentheid vir Paarl Rangers se rugby – dít terwyl dié klub vanjaar sy 110de verjaarsdag vier.
Paarl Rangers het verlede naweek die uitklop-kompetisie van die Paarlstreek gewen nadat hy Laer Paarl se eerste span met 13-11 geklop het.
Gure weer het nie die skare weggehou nie en die groen-en-wit-manne van Paarl Rangers was goed voorberei.
Laer Paarl het die hele wedstryd voorgeloop, maar Paarl Rangers het in die doodsnikke van die wedstryd sy staal getoon. Nadat hy volgehoue druk toegepas het, het hy die wendrie in laaste paar minute aangeteken.
Rugby was die groot wenner in die halfeind- en die uitspeel-eindronde van die uitklop-kompetisie.
Rangers se tweede span het ook as wenners van die veld af gestap nadat hy Violets met 27-19 geklop het.
Paarl Rangers is dus verlede Saterdag as die dubbele kampioen gekroon en eindig sy seisoen as die kampioen in die eerste en tweede liga van die uitklop-kompetisie.
Laer Paarl is die eerstespan-ligawenner, Young Gardens die tweedespan- en Young Standards die derdespan-ligakampioen.
Eerskomende naweek speel Rangers sy derby teen Albions, wat vanjaar sy 105de verjaarsdag vier. Hierdie wedstryd beloof om skouspelagtige rugby op te lewer. Beide klubs vra hul ondersteuners om die twee spanne in groot getalle te kom ondersteun en die pawiljoen in die onderskeie kleure van die klubs vol te pak.