Hoewel die raadslid Laurichia van Niekerk die afgelope naweek haar huis en al haar besittings in ’n brand verloor het, het sy dit steeds haar werk gemaak om ander se behoeftes bo haar eie te stel.
Van Niekerk dien as die Drakenstein-munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir beplanning en ontwikkeling, asook die raadslid vir wyk 25 (Nederburg en Lantana).
Julia Poggenpoel, Van Niekerk se ma, het vandeesweek aan Paarl Post die brandskade aan haar dogter se huis gewys nadat dit Sondag (8 Oktober) in die vroeë oggendure afgebrand het. Alles is deur die brand verwoes.
“Sy en haar kinders het alles verloor. Dit kon soveel anders gewees het, maar ek is net bly die Here het hul lewe gespaar en dat hulle betyds uit die brandende huis gekom het.”
Poggenpoel verduidelik die brand het aanvanklik by opslaanwonings op ’n aangrensende erf ontstaan. Hoewel daar genoegsame ruimte is tussen Van Niekerk en haar bure se erf is, het die brand daarin geslaag om na haar huis te versprei.
Die ontstaan van die brand is nog onduidelik, maar dit word vermoed inwoners van die opslaanwonings waar die brand ontstaan het, het na bewering Saterdagaand (7 Oktober) laat ’n vuur gemaak. Dit was die aand glo ook ’n bietjie winderig.
“Laurichia en die kinders het geslaap toe die brand ontstaan het. ’n Neef van die kinders het ook oorgeslaap daardie aand. Laurichia het wakkergeskrik en was ’n bietjie deurmekaar van die rook toe sy die vlamme gesien het.
“Haar bed is reg onder haar kamervenster, en net toe sy opstaan om die kinders wakker te maak, het die kamervenster oopgebars en die vlamme die hele kamer verswelg. Sy het nog gesukkel om die kinders wakker te kry, maar hulle kon betyds uit die huis kom.
“Sy kon gelukkig iemand in die skare vra om haar voertuig uit die erf te trek, anders het dit ook uitgebrand.”
Volgens Gerald Esau, Drakenstein se uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, is die brand omstreeks 02:55 by die brandweerdienste aangemeld. Die Drakenstein-plaaswag (DFW) en die plaaslike brandweer het saamgespan om die brand te blus.
“Die rede vir die ontstaan van die brand in Disastraat is tans onbekend, maar word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ondersoek. Een huis en vier informele strukture is in die brand verwoes. Niemand is volgens ons rekords in die brand beseer nie,” voeg Esau by.
Enkele ure nadat haar huis afgebrand het, was Van Niekerk besig om saam met die inwoners wat ook deur die brand geraak is, op te ruim.
“Sy het toegesien dat die mense die hulp ontvang wat hulle nodig het, soos kospakkies.
“Sy het so ’n tydjie gelede ’n sopkombuis op die been gebring en sy was daar betrokke, want daar is baie kinders en mense in die gemeenskap wat honger is en oor wie sy haar ontferm,” voeg Poggenpoel by.
Die brand is vir Van Niekerk en haar kinders ’n baie traumatiese ondervinding en hulle het reeds uitgereik vir hulp om hulle hierdeur te dra, sê Poggenpoel.
Paarl Post het ook met Van Niekerk kontak gemaak. Sy wou niks verder oor die voorval uitbrei nie en het net gevra mense in die gemeenskap moet hand bysit om die ander families wat ook geraak is, te help.
Kinders van die ander huisgesinne het ook al hul skoolgoed verloor in die brand.. Enigiemand wat kan help, kan Van Niekerk by 081 885 8365 bel.