Die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur sê hoewel deurlopende padwerkery op die R45 die volgende drie maande sal plaasvind, sal die pad steeds oop wees vir verkeer.
Die herstelwerk wat op die R45 in die Franschhoek- en Simondium-gebied gedoen sal word, is geskeduleer om teen Desember afgehandel te word.
Herstelwerk en teer-laswerk sal van die Franschhoek-glipweg tot by Mount Rochelle gedoen word. Dié herstelwerk vereis dat daardie gedeelte van die R45 vir 24 uur per dag gesluit bly totdat die werk afgehandel is.
Die pad sal bedags van Medi Centre tot by Mercedes gesluit wees wanneer waterpype by die Ou Paarl-pad verskuif word.
Die pad sal ook van die Vrede & Lust-wynlandgoed tot by Agrimark vir 24 uur gesluit wees.
By hierdie gedeelte van die R45 sal dreineringspype (culverts) ondergronds gebou word sodat stormwater onderdeur die pad kan beweeg.
Melchior Botes, ‘n woordvoerder vir dié departement, sê ‘n 24-uur-sluiting by sommige punte beteken nie dat die pad daar heeltemal gesluit gaan word nie.
“Dit beteken eenvoudig dat die stop-en-ry-verkeerbeheer 24 uur per dag vir elke dag van die week gebruik sal word.
Dit beteken mense sal steeds die Franschhoekpas kan gebruik, maar stop-en-ry-verkeerspunte sal gebruik word.
“Ons het verlede week en hierdie week gebruik om die stoptye te bereken om die konstruksieborde te wysig om padgebruikers in te lig oor hoe lank ‘n verwagte stop kan wees.
“In hierdie stadium is dit waarskynlik dat wagtye van tot 40 minute ervaar kan word op dae waar masjinerie en toerusting as deel van konstruksie-aktiwiteite verskuif moet word.
“ ’n Dagsluiting beteken dat die stop-en-ry-verkeerspunte slegs gedurende konstruksie-ure gebruik sal word.
“Nadat die konstruksiewerk vir die dag verby is, sal die verkeersbeheertekens verwyder word en verkeer sal sonder stop-en-ry voortgaan.”
Botes sê indien alles volgens plan verloop, sal geen pad tydens konstruksie ontoeganklik wees nie en alle werk sal met behoorlike verkeersbeheer gedoen word.
“Indien dit nie moontlik is nie, of iets gebeur wat die volledige sluiting van die pad noodsaak (met inbegrip van onverantwoordelike padgebruik deur padgebruikers wat in die konstruksiesone te vinnig ry), sal dit vooraf gekommunikeer word sodat padgebruikers alternatiewe reisreëlings kan tref.”


