Pierre Nolte, beter bekend as Valiant Swart, is in samewerking met die Hugenote Ondersteunersbond besig met ’n geldinsameling vir sy vrou, Lanelle, wat aan limfedeem-kanker ly.
Soos voorheen in Paarl Post berig, ly Lanelle aan kanker en haar toestand verg ’n dringende en duur mediese behandeling wat vereis dat sy na die Verenigde Koningkryk moet reis.
Die limfedeem-kanker is in haar regterbeen ontdek en dokters vrees dat dit na haar linkerbeen kan versprei.
Die toestand kan soms ’n nagevolg van kankerbehandeling wees – iets wat Lanelle byna drie jaar gelede deurgemaak het.
Aangesien die vermaaklikheidsbedryf erg deur die pandemie geraak is, is die geldinsameling gemik om R20-lootjies te verkoop ter ondersteuning van Valiant se familie. Dié lootjies gee deelnemers ’n kans om ’n lam, geborg deur Delico, as die eerste prys te wen.
Die tweede prys is ’n versameling met 12 bottels wyn, gevolg deur die derde prys – ses bottels wyn – van Wellington se bestes.
In pogings om geld in te samel, het Valiant van sy kosbare musiekinstrumente verkoop om sy sielsgenoot en ma van sy kinders te ondersteun.
Die uitdaging duur voort om die doelwit te bereik.
Maak ’n verskil deur lootjies te koop en ook so ander aan te moedig vir die belangrike en onbaatsugtige doel.
Help Lanelle só . . .. Vir nadere inligting bel Eugene Stapelberg by 084 861 7708 of Dico du Toit by 082 879 5240 om ’n verskil in Lanelle en Valiant se lewe te maak.


