Mense het onlangs breedvoerig bespiegel en verslag is gedoen oor die verouderde ondergrondse waterpypstelsel van die Paarl – ek verwys spesifiek na die stelsel in die Vrykyk-omgewing waar vier of vyf pype in net ’n paar dae gebars het.

Ek woon al langer as 20 jaar in Vrykyk en dit is glad nie ’n nuwe probleem nie, maar wel ’n probleem wat nog glad nie opgelos is nie.

Ons waterpyp-netwerk is baie oud en onder druk. Hierdie stelsel is destyds vir slegs ’n sekere kapasiteit ontwerp. Intussen keur die munisipaliteit alle ontwikkelings toe sonder om van die verouderde infrastruktuur werk te maak.

’n Goeie voorbeeld hiervan in Vrykyk is die woonstelblok wat ten spyte van groot teenkanting van inwoners in die nabye omgewing gebou is. Hierdie is gekoppel aan ’n verouderde stelsel wat net nog druk daarop plaas.

Woonstelblokke het juis ekstra waterdruk nodig vir water om boonste vloere te bereik. Wat die munisipaliteit dan doen, is om die waterdruk in hierdie gebiede eenvoudig hoër te stel. Die netwerk is net nie vir hierdie ekstra las ontwerp nie.

Dus maak hierdie las op die netwerk – die hele stelsel – net meer vatbaar vir pypbarste, soos wat ons onlangs gesien kon word.

Wat by ’n goed bestuurde infrastruktuurnetwerk behoort te gebeur, is dat hierdie netwerke eers geheel en al herbou moet word om die ekstra las van nuwe ontwikkelings te dra. Maar, wat ons munisipaliteit in die Paarl eerder doen, is omgekeer, juis omdat hulle so gierig agter geld aan is. Hulle ontwikkel eers en daarna krap hulle kop oor hoe (en of) hulle die probleem gaan oplos. En dan, natuurlik, kom die verskoning dat daar nie geld hiervoor is nie! Dit het eenvoudig net nie sin nie.

Nou moet die jare lange getroue inwoners van die Paarl sukkel met wateronderbrekings en dies meer, vir ure op ’n keer, net omdat die munisipaliteit nie sy navorsing ordentlik doen voordat hy nuwe onwikkelingsplanne afteken nie.


W. Smit,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article