Shorene Theunissen, ’n nie-praktiserende prokureur, word van beleggingsbedrog ter waarde van R4 miljoen aangekla.Foto: LinkedIn


’n Paarlse familie het die inhegtenis­neming van ’n vermeende boedel-bedrieër verwelkom nadat sy deur die Valke in oorleg met die polisie in die Wes-Kaap vir bedrog ter waarde van R4 miljoen aangekeer is.

Shonene Theunissen, ’n nie-praktiserende prokureur, word daarvan beskuldig dat sy haar kliënte se beleggingsgeld na haar persoonlike en/of familie-bankrekenings oorgeplaas het.

’n Lasbrief vir haar inhegtenisneming is reeds in Julie vanjaar uitgereik toe sy nie vir haar eerste hofverskyning opgedaag het nie.

Volgens lt.kol. Siyabulela Vukubi, ’n polisiewoordvoer-der, is sy op 20 September in hegtenis geneem – twee maande nadat ’n lasbrief uitgereik is.

Sy het die volgende dag in die handelsmisdaad­hof in Bellville verskyn en is aangehou tot haar volgende verskyning, wat op 28 September sou wees.

Dit is in dié stadium nog nie duidelik hoeveel mense slagoffers van Theunissen se beweerde bedrog is nie.

Paarl Post het vroeër vanjaar berig Jacky le Roux, ’n inwoner van die Paarl en die dogter van wyle Crystal Gunter, wat in Februarie 2021 op 87 jaar aan nierversaking oorlede is, is een van Theunissen se vermeende slagoffers.

Bykans R1 miljoen het glo uit haar ma se boedelrekening verdwyn nadat Le Roux vir Theunissen vertrou het om die boedel te behartig toe Le Roux in Mei 2021 as eksekuteur van die boedel aangestel is.

Tot Le Roux se skok is verskeie transaksies tussen April en September uit haar ma se boedelrekening gedoen en in onder meer ’n rekening met die naam van Theunissen se dogter oorgeplaas.

Daar is ook verskeie ander transaksies gedoen wat as “besigheid” en “erfenis” getitel is.

Dit was eers teen laat 2022 dat Le Roux onraad vermoed het.

Al wat tóé oorgebly het, was R605 nadat Le Roux die boedelrekening se state by die bank aangevra het.

Le Roux het dit toe “haar werk gemaak” om ’n regsverteenwoordiger in Januarie vanjaar aan te stel, waarna Theunissen glo erken het sy het die geld gesteel.

Theunissen het glo erken dat sy aan Le Roux R529 000 verskuldig is, en het beloof om teen einde Januarie sowat R50 000 terug te betaal gevolg deur maandelikse paaiemente van R4 000.

Paarl Post verstaan dat die R605 wat in die rekening oorgebly het, enkele dae na dié belofte ook uit die boedelrekening verdwyn het.

Le Roux het Dinsdag aan Paarl Post gesê sy verwelkom Theunissen se inhegtenisneming en is dankbaar vir die Valke wat die saak met deernis hanteer.

“Ek wil hierdie vrou van die straat af kry en seker maar niemand anders gaan deur wat ek en my broer moet gaan nie.

“Hierdie was geld wat my ma aan my toevertrou het – geld wat vir my en my broer bedoel was.

“Ek het Shonene daarmee vertrou. Ek het iemand nodig gehad wat kon seker maak my ma se wense word vervul.

“Shonene het my broer se finansiële situasie verstaan, maar steeds besluit om ons te besteel,” het ’n baie emosionele Le Roux aan Paarl Post gesê.

Paarl Post konteen druktyd nie Theunissen se volgende hofverskyning by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bevestig nie, maar het by Le Roux verneem dat die beskuldigde Maandag (23 Oktober) weer in die hof moet wees.

You need to be Logged In to leave a comment.