Ná meer as vier dekades in die onderwysbedryf tree emeritus prof. Michael le Cordeur met grasie af en laat ’n ryk nalatenskap in dié bedryf agter vir diegene wat in sy voetspore volg om verder daarop voort te bou.
Dié 65-jarige akademikus van Wellington sê die begeerte om ’n verskil in die lewe van die jeug te maak – veral in sy eie gemeenskap, wat deur armoede moet worstel – het hom motiveer.
“Ek het my loopbaan by Pauw Gedenk Primêr begin. Ek het by die Boy Scouts aangesluit en is in 1975 gekies om my land by die internasionale Jamboree in Noorweë op 16 te verteenwoordig. Dit was my eerste reis oorsee en ’n lewensveranderende ervaring, aangesien ek die lewe sonder apartheid die eerste keer beleef het. Die 1976-jeugopstand in matriek by die plaaslike Bergrivier Sekondêre Skool het ’n groot uitwerking op my lewe gehad. Ek het ten spyte van hierdie uitdagings matriek geslaag met ’n eersteklas- (soos dit destyds genoem is) en ’n matriekvrystelling. Ek was die eerste lid van my gesin wat universiteit toe is.
“Nadat ek die BA-graad en senior onderwysdiploma aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), die enigste universiteit vir sogenaamde Kleurlinge, voltooi het, het ek na my alma mater teruggekeer om my onderwysloopbaan te begin. Ek het deur die geledere van hoof van departement, adjunkhoof by Weltevrede Sekondêre Skool en hoof van die Hoërskool Kylemore gegaan terwyl ek my studies voortgesit het.”
Le Cordeur het toe sy honneursgraad aan die UWK voltooi asook sy BEd-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Hierna het hy ’n pos as kringbestuurder van onderwys in die Stellenbosch-distrik beklee. Hier was dit Le Cordeur se taak om oor 44 skole toesig te hou.
“Dit was hier waar ek bewus geword het van die krisis in leerders se lees- en skryfvaardighede, wat gou my navorsingsfokus vir die meesters- (M Ed) en doktorale (PhD) grade aan die Universiteit Stellenbosch (US) geword het. Die fokus van my navorsing was om die leesvermoë van leerders te verbeter.
“Nadat ek die PhD en ’n senior bestuursdiploma cum laude van die US se nagraadse sakeskool voltooi het, is ek as dosent by Maties aangestel.
“Tot my aftrede was ek ’n dosent in die fakulteit opvoedkunde waar ek Afrikaanse letterkunde op voor- en nagraadse vlak doseer het. Sedert 2012 was ek die hoof van die B Ed-program en sedert 2014 ’n senior lektor in taalonderwys. Sedert 2016 was ek vir twee termyne voorsitter van die departement kurrikulumstudie, en sedert Julie 2017 is ek aangestel as medeprofessor en op 1 Julie 2019 as vol professor. Vir die laaste drie jaar van my loopbaan is ek aangestel as die visedekaan van onderrig en leer in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.”
Le Cordeur se kennis en ervaring het tot nou ’n groot bydrae tot onderwys gelewer. Hy het onder meer talle artikels en boekhoofstukke gepubliseer en bydraes gelewer.
“Ek is die skrywer, mede-outeur en redakteur van 33 handboeke oor Afrikaans Huis- en Addisionele Taal. Op hoëronderwysvlak het ek oor kurrikulumstudies, Afrikaanse pedagogie en ’n gids vir beginner-navorsers gepubliseer. Ander boeke is: Die Wellingtonse klopse – 100 jaar se onvertelde stories, 2013; Ons kom van vêr (2018), Halala Suid-Afrika (2019), Davey Samaai: Die kampioen van die Struggle en Davey Samaai, The People’s Champion (2020); Covid: Krisis en Geleenthede in Onderwys en Geleenthede in Afrika (2022).
Le Cordeur is oor die jare met verskeie toekennings vir sy werk en bydraes as navorser vereer. In sy dae was hy ook ’n besonderse sportman en baie by plaaslike sport betrokke. Le Cordeur het vir die Roslins-rugbyspan uitgedraf en was lid van die Sussex-krieketspan. Hy spog dat hy vir ’n tyd ook die skolesport-administrateur as voorsitter van die Boland Senior Sekondêre Skoolsport-unie was.
Le Cordeur het verskeie eerbewyse waarmee hy kan pronk, maar buiten al sy suksesse is hy ’n “doodgewone mens wat van koesisters en groenboontjiebredie hou”. Hy is ’n man wat soms daarvan hou om vir sy gesin ’n vleisie te braai of ’n potjie te maak.
Sy trotse oomblikke in die lewe sluit in dat hy die geleentheid gegun is om ’n pa te kan wees, asook elke leerder en student wat onder sy hand uit kom en nou suksesvol is.
“Ek hoop dat die duisende studente wat onder my hande deur is, elkeen op hul eie manier ’n leier in sy of haar gemeenskap sal wees en die boodskap sal versprei dat onderwys ’n beter plek van die wêreld kan maak. Ek hoop almal sal eendag besef dat Moedertaalonderrig die beste manier is om ’n kind op te voed. Ek is oneindig dankbaar vir die ondersteuning wat ek van my ouers en my gesin gekry het, sonder wie se hulp ek niks hiervan sou kon doen nie.”
Met sy aftrede beplan Le Cordeur nie om net agteroor te sit en te ontspan nie, maar om verder aandag te gee aan die dinge en mense wat hy lief het.
Dit sluit in om meer tyd saam met sy vrou, Sonia, en hul seun en dogter deur te bring.
“Ek is baie lief vir tuinmaak – iets wat ek en my vrou saam kan doen. Dan is ek al langer as 40 jaar doenig met die kweek van krisante en ek het al heelwat pryse gewen. Ná ’n lang dag op kantoor is dit hier in my tuin tussen my blomme dat ek ontspan. [Nou gaan ek] tuinmaak, lees en skryf. Daar is nog so baie boeke wat geskryf moet word. Ek luister ook graag na die BeeGees en die Beatles se musiek.”