Die private veiligheidsbedryf in Suid-Afrika kan binnekort baie strenger beheer word indien Senzo Mchunu, die nasionale minister van polisie, sy sin kry.
‘n Kennisgewing vir openbare kommentaar is op 28 Maart in die Staatskoerant gepubliseer rakende die nuwe voorgesteldewysigings aan regulasies ingevolge die wet op die regulering van die private veiligheidsbedryf.
Dit sluit onder meer strenger reëls oor die gebruik van vuurwapens en ander wapens deur die private veiligheidsbedryf in.
Volgens die kennisgewing in die Staatskoerant het Mchunu in konsultasie met die regulerende owerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira) die uiteengesette veranderinge aan die wet aangebring
Die minister kry egter die wind van voor met organisasies soos die die Suid-Afrikaanse Wapeneienaarsvereniging (Saga) wat kapsie daarteen maak, asook die DA wat in ‘n onlangse persverklaring sy misnoeë oor die voorgestelde regulasies uitgespreek het.
Op tuisbodem is Cyclops Security, ‘n veiligheidsmaatskappy in die Paarl, ook gekant teen die nuwe regulasies en voer aan dit is nie deurdag nie.
Volgens Theunis Fick, die eienaar van Cyclops, kan die private veiligheidsbedryf verliese in die gesig staar as die regulasies goedgekeur word.
Fick voer aan die nuwe wetgewing kan lei tot werksverliese of selfs die sluiting van ondernemings omdat die publiek, wat staatmaak op die dienste van private veiligheidsbedryf, vertroue in die sektor se vermoë sal verloor.
Van die nuwe regulasies wat in die staatskoerant gepubliseer is, sluit in:
•Veiligheidsbeamptes mag nie vuuwapens by taxi-staanplekke, begraafplase, hospitale, stadions, winkelsentrums, kerke, restaurante, openbare parke, skole en ander soortgelyke open bare plekke dra indien toestemming van Psira nie verkry is nie en sekere maatreëls nie nagekom is nie;
• Veiligheidsbeamptes word nie meer as ‘n “redelike hoeveelheid” ammunisie voorsien vir die doel om die betrokke veiligheidsdiens te lewer nie en die ammunisie moet voldoen aan enige toepaslike vereistes wat in die vuurwapenbeheerwet beoog word;
• Veiligheidsbeamptes moet ten minste een keer per jaar op die koste van die private veiligheidsonderneming vir toetse gestuur word, wat hul “visuele en ouditiewe kapasiteit, lokomotoriese en neurologiese stelsel en algemene verstandelike en emosionele toestand” bepaal;
• ‘n Veiligheidsmaatskappy wat van semi-outomatiese gewere gebruik maak, kan dit slegs gebruik om goedere wat vervoer word, te beskerm, om kritieke infrastruktuur te beskerm en om die stroping van wild, soos renosters, te beskerm;
• Veiligheidsmaatskappye moet ‘n opsporingstoestel wat dear Psira goedgekeur is, in elke vuurwapen installeer; en
• Veiligheidsbeamptes mag slegs tasers, traangas, waterkanonne, sponsgranate en rubber- en plastiekkoeëls gebruik indien ‘n aansoek by Psira gedoen en ‘n permit bekom word.
Ernstige gebreke in wysigings
Volgens Gideon Joubert, ‘n trustee van Saga, is daar “ernstige en aftakelende gebreke in die wysigings”.
“Hulle [Mchunu en Psira] sal die administratiewe las en koste op private veiligheidsverskaffers aansienlik verhoog en hul vermoë om dienste aan hul kliënte te lewer, ernstig beperk. Met meer as 580 000 veiligheidsbeamptes in diens, wat miljoene kliënte bedien, is die bedryf ‘n hoeksteen van Suid-Afrika se veiligheid, [maar] hierdie wysigings dreig om dit heeltemal te destabiliseer,” het Joubert gesê.

Die DA is ook gekant teen die konsepwysigings, en voer aan dit sal openbare veiligheid in gedrang bring.
“Die voorgestelde wysigings is deurspek met vae, onpraktiese en wetlik problematiese bepalings en stel ernstige beperkings op waar en hoe gewapende veiligheidsbeamptes mag werk,” het Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie, in die verklaring gesê.
“Die afwesigheid van ‘n duidelike standaard stel veiligheidsmaatskappy bloot aan arbitrêre en onbestendige toepassing, wat regsonsekerheid in ‘n reeds oorgereguleerde omgewing ver-der verhoog,” was Cameron se mening.
Volgens Fick moet hierdie streng voorgestelde maatreëls nie net ingestel word vir die private veiligheidsbedryf nie, maar ook vir die Suid-Afrikanse Polisiediens (Saps).
‘n Voorbeeld wat hy gegee het, is dat ‘n private veiligheidsbeampte tans jaarliks vir skiet- toetse gestuur word, terwyl polisiebeamptes dit net elke vyf jaar moet doen.
Volgens hom is dit onredelik vir Psira om ‘n maatreël in te stel wat die private veiligheidsbedryf dwing om opsporingstoestelle in hul wapens te installeer, terwyl dit nie in die Saps gedoen word nie.
Indien hierdie maatreëls suksesvol ingestel gaan word, gaan misdaad ook die hoogte in skiet, volgens Fick, omdat die Saps tans nie in staat is om misdaad te bekamp nie, en nóg meer uitdagings gaan ervaar wanneer die private veiligheidsbedryf se regte om die staatsentiteit by te staan, opgeskort gaan word.
You must be logged in to post a comment.