Die oudskoliere van een van Drakenstein se oudste en bekendste plaasskole, die eertydse Primêre Skool Klein Drakenstein, het ’n opwindende en stimulerende manier ontdek om saam-saam hul gelukkige skooldae van lank gelede te herdenk.
Baie van die oudskoliere wat daar op skool was toe die skool se 100e bestaansjaar in 1954 gevier is, het mekaar onlangs weer op ’n geselligheid op Wellington vir die eerste keer in meer as 64 jaar gesien en so lekker saamgekuier dat daar summier besluit is dat dié geselligheid voortaan ’n jaarlikse instelling moet word. Die volgende byeenkoms sal later vanjaar op 26 November plaasvind.
Die skool het in 1854 in ’n buitegebou op die plaas Lanquedoc in die Klein Drakenstein vir die eerste keer geopen. Deur die jare het dit in status gegroei tot ’n gewilde tweemanskool wat gehuisves is in ’n netjiese skoolgeboutjie wat deur die ouers opgerig is.
Vandag staan die destydse skoolgeboutjie verlate want die veranderinge in die onderwyswêreld het mense van die Klein Drakenstein later gedwing om die skool te sluit.
Bekende akademici en politici het saam met manne wat later onder die voorste boere van die omgewing getel het, hulle eerste skooljare in die skool deurgebring. Omdat dit slegs ’n laerskool was, is klasse slegs tot by standerd vyf in die skool aangebied. Feitlik alle kinders van die boeregemeenskap van Klein Drakenstein het hul eerste skooljare daar deurgebring.
In 1954, toe die skool sy 100e bestaansjaar gevier het, was daar onder die tientalle leerlinge die twee dogters en seun van die bekende Afrikaanse skrywer W.A. de Klerk en die kinders van verskeie oudleerlinge van die skool wat toe reeds in die omgewing geboer het.
Jeanne de Klerk, wat saam met haar suster Katrien en broer DP die skool bygewoon het, vertel dat hulle plaas betreklik naby die skool geleë was. Haar pa, die skrywer W.A. de Klerk en haar ma het die drie kinders soggens om die beurt by die skool gaan aflaai en in die middag weer gaan haal.
R.C. Malherbe van Wellington vertel dat sy hele familie hul skoolopleiding daar ontvang het. Toe hy daar skoolgegaan het was sy Pa ’n lid van die skoolkomitee.
Met verloop van tyd het die middelpunt in die gemeenskap egter in die vergetelheid verdwyn – veral nadat die grond waarop die skoolgebou staan deel geword het van die Klein Drakenstein-gevangenis.
Dit het egter nooit uit die harte van die oudleerlinge verdwyn nie. Toe R.C. Malherbe vroeg verlede jaar aan die oudleerlinge met wie hy nog kontak gehad het, voorstel dat hulle ’n slag lekker moet saamkuier was hulle soos een man gereed om die plan in werking te stel.
Hulle het op 20 November almal saam in die onthaalsentrum van die Montevideo-gastehuis op Wellington gaan eet. Almal wat die ete bygewoon het, het daarop aangedring dat die saamkuier van oudleerlinge van die primêre skool Klein Drakenstein so ’n sukses was, dat daar moeite gedoen moet word om die klompie wat nie die ete bygewoon het nie, na die volgende saamkuier te nooi.
Helmin Basson, wat van 1951 af daar skoolgegaan het, het kort na haar skooljare getrou en het saam met haar man eers in Zimbabwe en later in Malawi gewoon. In dié tyd het sy alle kontak met haar ou skoolmaats verloor. Kort nadat sy en haar man in Suid-Afrika kom aftree het, het sy by R.C. van die ete gehoor. Daar het sy feitlik al haar ou skoolmaats weer raakgeloop.
“Dit was so ’n wonderlike, verrykende ervaring dat ek saam met die ander daarop aangedring het dat ons alles in ons vermoë moet doen om alle oudskoliere van ons plaasskooltjie wat nog lewe, by die volgende ete moet probeer kry.”
Hierdie ete word gereël deur R.C. Malherbe en sal op 26 November vanjaar weer by Montevideo plaasvind. Belangstellende oudskoliere kan hom kontak by 021 873 1952.