Muratie Wynlandgoed se prettige Wynstap van 3,5 km vind Saterdag (26 Oktober) plaas. Dié pretloop begin by die Dirtopia-roetesentrum.
Met hul aankoms by die wynlandgoed kan deelnemers ’n glas Lady Alice MCC geniet, voordat hulle op ’n roete stap wat asemrowende uitsigte oor Simonsberg en Tafelberg bied.
Langs die pad kan deelnemers twee van Muratie se rooiwyne, asook twee witwyne, by skilderagtige uitkykpunte proe.
Stappers word vanaf 08:30 met ’n glas Lady Alice MCC verwelkom, en die pretloop begin om 09:00.
Kaartjies kos R150 vir volwassenes en R60 vir kinders (met ’n sap ingesluit). Bespreking is noodsaaklik.
. Besoek www.dirtpass.co.za/product/tickets vir besprekings. Besoek ook www.dirtopia.co.za, stuur e-pos na info@dirtopia .co.za of WhatsApp na 078 343 3572 vir meer inligting.
. Die gewilde Hope Hike vind Sondag (27 Oktober) by die Delvera-landgoed in Stellenbosch plaas.
Dié jaarlikse geleentheid word ondersteun deur die Ithemba-stigting, ’n organisasie sonder winsbejag wat navorsing oor psigiese gesondheid doen en op die bewusmaking van depressie fokus.
Dit word elke jaar in Oktober, wat Wêreld-Psigiesegesondheidsmaand is, gehou en die geld wat ingesamel word, gaan aan die stigting.
Die publiek word aangemoedig om deur Oktober – ook bekend as HOOPtober – hul hemelsblou-vir-hoop-strikkie te dra. Blou is bekend as die kleur vir optimisme, vrede, positiwiteit, rustigheid, kalmte en hoop.
Deelnemers aan die Hope Hike kan persoonlik of virtueel deelneem. Drie roetes waaraan deelnemers kan deelneem, is by Delvera beskikbaar: die 7 km-Klapmutskop-roete (07:30); die 10 km-roete (07:35); en die 5 km-roete (07:45). Mense wat elders (virtueel) deelneem, kan in enige tyd en op enige plek hul eie roete voltooi.
Deelnemers word aangemoedig om iets blou te dra en selfies met hul inskrywingsnommer op die Ithemba-stigting se Facebook- en Instagram-blad te deel. Fantastiese pryse is vir beide geleenthede op die spel.
Die inskrywingsfooi is R80 vir volwassenes of R50 vir leerders en studente. Inskrywings sluit Vrydag (25 Oktober) vir al twee weergawes.
. Besoek www.entryninja.com/events/ om in te skryf.