Lisma van den Berg is ’n storieverteller van formaat.
So glo haar twee kleinkinders wat in ’n aangrensende huis langs haar en haar man in Minniestraat, Wellington woon.
Lisma sê sy het weer op haar beurt by die tweeling geleer om ’n storie te slyp en te skaaf totdat elke kind wat daarna sit en luister aan haar lippe hang.
“Ek het in alle erns met die storievertellery begin toe die tweeling groot genoeg was om na stories te kon luister.
“In daardie dae het ek soms, as die stories begin opraak, vir hulle ’n storie wat ek vroeër reeds vertel het, weer herhaal. Maar die twee was te skerp vir hulle ouma! Hulle het my kort-kort onderbreek en gesê die deel van die storie wat ek nou vertel, verskil van dit wat ek die vorige keer gesê het.
“So het hulle my gedwing om vooraf die stories neer te skryf sodat dit dieselfde storie kan bly.”
Die pak getikte stories het gemaak dat die bekende kunstenares, Marie Prinsloo, op ’n dag een van die stories geïllustreer het. Kabouterstories is kort daarna deur ’n bekende uitgewer van kleuterstories uitgegee. ’n Tweede boek, Kabouterstories Volume 2, het ’n rukkie later gevolg.
’n Splinternuwe boek, Avontuurstories vir Agies, is verlede week by die Breytenbach-sentrum in Wellington bekendgestel.
Lisma lees deesdae gereeld van haar stories by verskillende skole in en om Wellington voor.
Volgens haar is dit verstommend hoeveel sy by hierdie groepe kinders oor die skryf van kinderstories geleer het.
“Ek het, danksy die kinders, agtergekom almal van ons wat vir kinders stories uitdink, maak die stories te ‘mak’. Die reaksie van die kinders toe ek dit gewaag het om ’n effense skurwigheidjie in die storie in te werk, was verstommend. Toe ek hulle vertel van die heksie met die naam van Fillipina wat sê sy is nou gatvol, het die juffrou in die klas se oë gerek, maar die kinders het geskater van die lag!”
Volgens Lisma het die bekendstelling van haar jongste boek 2 September verskil van die normale boekbekendstellings deurdat veral kleuters baie welkom was om dit by te woon.
Die byeenkoms is toe ook só gereël dat grootmense en kleuters hulle gate uit kon geniet!
Vir nader besonderhede, skakel gerus 021 803 2786.