Die derde jaarlikse Strides for Africa Walkathon van die World Fair Trade Organisation (Afrika en Midde-Ooste), ondersteun deur die Drakenstein-munisipaliteit, is die afgelope naweek in die Paarl Arboretum gehou – met groot sukses.
Dit was duidelik dat die deelnemers die uitstappie geniet het en die atmosfeer was ongelooflik. Die Walkathon het stappers op ’n pragtige 5-km-roete deur die mooi Arboretum geneem. Mense van alle vlakke van die samelewing – insluitend die munisipaliteit se burgemeester, Conrad Poole, en sy vrou, Jene – het die atmosfeer en geleentheid geniet.
Jonk en oud het in groot getalle opgeruk en die koel weer was ideaal vir ’n lekker oggendstappie.
Die Drakenstein-munisipaliteit is die eerste Fairtrade-munisipaliteit in Suid-Afrika en die Walkathon is ’n inisiatief in samewerking met Fair Trade om bewustheid en aanmoediging te skep vir die koop van plaaslike goedere en dus ook die ondersteuning van klein plaaslike ondernemings.
Etlike hooggeplaaste verteenwoordigers van die munisipaliteit het ook deelgeneem.
Paarl FM se Lyndon Jafta het seker gemaak die gees was by die begin en eindstreep hoog, met ’n paar warm deuntjies om die stappers aan die gang te hou.
’n Paar gelukkige deelnemers het met geldpryse weggestap en vir een – Theodore Marinus – was dit ’n besonder winsgewende dag. Hy het nie net R500 in ’n gelukstrekking gewen nie, maar ook ’n bykomende R500 vir die prettigste geklede man én hy was lid van die span wat R2 500 vir die span met die beste gees gewen het.