As deel van internasionale Kanker-oorwinnaarsmaand wat in Junie gevier is, het Kansa alle kankeroorwinnaars vir hul uithouvermoë vereer. Die fokus is geplaas op kinders, tieners, jong volwassenes en hul ouers en voogde. Naomi Philander, maatskaplike werker by Kansa Paarl, sê: “Elke kankerdiagnose kan ’n pasiënt en hul geliefdes negatief beïnvloed, en Kansa verskaf die praktiese en emosionele ondersteuning wat hulle tydens kankerbehandeling nodig het. Dit is vir volwassenes swaar as kanker by hulle gediagnoseer te word, en dis selfs moeiliker in die geval van ’n kind of tiener, en spesifiek vir die ouers van pediatriese pasiënte. Wanneer kanker by ’n kind of tiener gediagnoseer word, bied Kansa TLC (Tough Living with Cancer) ondersteuning aan pediatriese pasiënte, ouers en geliefdes terwyl hulle hul ergste vrees in die gesig staar.” Philander en Leonay Fisher, ’n hulp- maatskaplike werker-student, het op 29 Junie die dag spesiaal gemaak vir kinders van Wellington en Paarl wat kanker oorwin het. Philander voeg by dit was ’n opwindende dag vol pret en lekker vermaak. “Dankie aan ons Kansa-personeel en vrywilligers, Theben Johnson, Karel Dampies en Rossina Snell, wat dit so ekstra spesiaal gemaak het deur op te tooi vir die kinders.”