HERMANUS – Oud en jonk moet sedert 1 Mei maskers dra wanneer hulle die huis verlaat.
Aangesien kinders dalk skrikkerig kan wees vir die onbekende en soms ongemaklike maskers, het Carol van Zyl van Onrus besluit om oulike karakter-maskers vir die kleinspan te maak.
“Ek hou daarvan om met lap te speel en almal maak deesdae maskers vir die volwassenes. Daarom het ek besluit om vir die kleintjies oulike maskers te maak wat dit pret sal maak om maskers te dra,” vertel Carol.
Die onderste deel van die masker, wat oor die neus en mond pas, verduidelik Carol, word gemaak volgens standaarde wat deur die owerhede uiteengesit is en die boonste deel wat oor die oë pas, is om mooi te lyk.
Een van haar topverkopers is die eenhoring-stel (unicorn) – kompleet met ’n eenhoring en kleurryke details vir die boonste helfte van die masker. Die onderste deel van dié stel is in bypassende kleure en pas om die mond en neus. Vir die seuntjies is daar ook ’n verskeidenheid van aksiefigure soos Batman en Superman se maskers om van te kies.
“Ek het aanvanklik katoen vir die maskers gebruik, maar nou gebruik ek poliëster vir die buitenste laag en sy vir die binneste laag sodat dit sag teen die vel is. Ek doen dit nie professioneel nie. Niks is perfek nie, maar alles word met liefde gemaak.”
Met haar gesonde verbeelding kom Carol met die oulikste idees vir die kleurryke maskers vorendag. Sy vul dit verder aan met idees wat sy op Pinterest en sosiale media kry. Die vlytige naaldwerkster ontwerp, knip en stik self al die maskers. “Dis nogal tydrowend. Daar is omtrent 17 stappe om te volg as jy by die riglyne wil hou,” sê sy.
Sy sukkel deesdae om by te bly met al die bestellings vir die kleurryke maskers. Haar grootste bestelling nog was vir ’n ouma van Hermanus wat 15 stelle vir haar kleinkinders bestel het.
“Ek ontsmet en stoom alles voordat ek dit in ’n plastieksak verseël en verpak. Mense betaal vir hul bestellings en ek los dit dan vir hulle op ’n veilige plek wat ons vooraf bespreek het,” verduidelik sy.
Die maskers kos R75 terwyl maskers wat net die mond en neus bedek, R35 kos. Carol tower ook die oulikste lappoppe met naald, gare, lint en lap op. Voorbeelde hiervan is op haar Facebook-blad Carol-ann Rag Dolls.