Van links is Steven von Schlicht, voormalige voorsitter van die beheerliggaam

Dr. Anel Pepler, ’n grondlegger van preprimêre onderrig in die vallei en die stigter van die Dwergiebos-preprimêre skool in Wellington, het op 6 Maart ’n foto met die interessante geskiedenis van die totstandkoming van hierdie skool aan die huidige skoolhoof van Doemsie Kampus, Marné Louw, oorhandig.

Dwergiebos is sedert 2017 die Doemsie-kampus van die Hugenote Laerskool en die geleentheid waartydens die oorhandiging plaasgevind het, is deur die bestuur van Hugenote Laerskool, hul skoolbeheerliggaam-verteenwoordigers (SBL) en Steven von Schlicht, een van Dwergiebos se voormalige ouers en ’n verteenwoordiger van die plaaslike ATKV-tak, bygewoon.

Stephan Herz, die skoolhoof van Hugenote Laerskool, sowel as Marné Louw het hul waardering teenoor dr. Pepler uitgespreek vir haar diep voetspore waarin hulle moet volg en benadruk dat dit groot skoene is wat hulle moet volstaan. Wat begin het as ’n eenman- (of eenvrou-) skooltjie het gegroei tot ’n allemintige skool met sewe onderwyseresse en nege klaskamers.

Een van die heel eerste leerders het ook aan dr. Pepler hulde gebring. Jaomi Zeeman, tans ’n SBL-lid en onderwyseres by Hugenote Laerskool, het vertel van die passie en deursettingsvermoë waarmee dr. Pepler destyds die totstandkoming van die skool aangepak het.

“Sy het vrou-alleen, in ’n tyd toe dit nie eintlik die norm was dat vroue dinge alleen aanpak nie, die hele gemeenskap gemobiliseer om met die totstandkoming van die skool te help. Die impak wat dit op onderrig in die dorp gehad het, is gelykstaande aan al die ander groot rolspelers in die vestiging van opvoeding en onderrig in Wellington se bydraes.

“Dr. Pepler is een van die reuse op wie se skouers die opvoedkundige instellings in die dorp vandag staan. Mense soos sy het ’n geweldige invloed op die vorming van baie lewens gehad en wat sy opgerig het, staan as ’n monument vir latere geslagte,” het Jaomi gesê.

Elzette Pool, dr. Pepler se dogter, het vertel hoe die skool ná die afsterwe van hul vader hul eintlike huis geword het.

“Die hele dag is gewoonlik daar deurgebring. Saans onthou ek hoe my ma by my en my suster op die vloer gesit en studeer het – iets wat haar uiteindelik haar doktorsgraad laat verwerf het. My waardering en bewondering vir ’n ma wat vrou-alleen haar kinders grootgemaak het, ’n plaas bedryf en ’n skool begin en gestuur het, is oneindig.

“Sy het uiteindelik haar loopbaan as dosent by die KSUT in Wellington afgesluit, waar sy honderde preprimêre onderwyseresse opgelei het,” het Elzette gesê.

Die seremonie het die oorhandiging van die geraamde foto met die geskiedenis van die skool sowel as ’n geskenk van Hugenote Laerskool aan dr. Pepler ingesluit.

Tydens dr. Pepler se spreekbeurt het sy vertel dat dit nie ’n droom was om iets groot staan te maak nie, maar bloot ’n behoefte om te werk, sowel as die drang om in die ontwikkeling van jonger kinders te belê, wat haar destyds gedryf het om die skool tot stand te bring.

“Vroue kon destyds nie in poste aangestel word wanneer hulle trou nie. Deur my eie skool te begin, kon ek hierdie reël van die departement omseil en steeds aanhou werk. Om met kinders te werk en hulle te onderrig en ’n blywende impak op hul toekoms te maak, was my ander dryfveer,” het dr. Pepler vertel.

Volgens haar sou haar projek nêrens gekom het sonder die hulp en insette van die hele gemeenskap nie.

“Die hele gemeenskap het saamgestaan en ons kon uiteindelik vanuit die klein begin in die Voortrekkersaaltjie skuif na die perseel waar die skool tans is. Die kerke, die plaaslike Lions, die boerevereniging, die VLV, die munisipaliteit, die ACVV en talle lede van die gemeenskap het hand bygesit en met hul kundigheid en hulpbronne saamgespan om die droom waar te maak,” het dr. Pepler gesê.

Toe die departement van onderwys gr. R en gr. RR verpligtend maak, moes skole amalgameer, en daaruit is die Doemsie-kampus gebore. Die nuwe naam is ’n verwysing na die Doemsa-simbool van Hugenote Hoërskool, wat veral by interskole gebruik word. Met die nuwe naam het die voormalige Dwergiebos dus deel van die Hugenote-familie geword.

Volgens dr. Pepler was sy aanvanklik effens hartseer toe die naam Dwergiebos vir ’n nuwe naam plek moes maak. Sy is egter nou tevrede en trots op die manier waarop op haar nalatenskap voorgebou word.

“My hart is gerusgestel en ek voel trots om die grondlegger van hierdie instansie te wees wat vandag uit sy nate bars, en te kon ervaar hoe fenomenaal die groei plaasgevind het.

“Baie dankie aan julle wat voorvat en steeds uitbou,” was haar boodskap aan die personeel, van wie die meeste as studente ook onder haar leiding studeer het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article