Waar sommige mense verkies om hul aftreegeld op ’n huisie langs die see of iewers in ’n rustige dorpie te bestee, het Abel Kortje, ’n afgetrede werker van die Kaapstadse metro, die Paarl as sy aftreebestemming gekies.
Hier voed hy nou elke Woensdag bykans 300 mense deur ’n voedingskema wat hy in Vlakkeland tussen die Paarl en Wellington op die been gebring het.
Kortje is ’n predikant by die Hope Independent Ministries en is oorspronklik van Eersterivier.
Hy het in 2022 in die Paarl kom aftree nadat hy vir 30 jaar in die afdeling vir ekonomiese ontwikkeling by die Kaapstad-metro gewerk het.
Volgens Kortje het hy die nood vir ’n voedingskema in Vlakkeland verlede jaar al identifiseer.
“Ek het besef baie van ons rural gebiede hier in die Paarl word deur armoede geteister. Boonop is dit gemengde gemeenskappe met verskillende agtergronde en sosiale omstandighede.
“Hoewel ’n voedingskema nie die probleem van armoede en werkloosheid oplos nie, het ek vir myself as ’n vader, man en Christelike leier gesê ons kan nie toekyk hoe mense in hierdie omstandighede moet leef nie. Dis waar die idee van die voedingskema gebore is.”
Magdalena Botha, oftewel aunty Maggie, soos die inwoners haar ken, het haar huis in Idolstraat vir die voedingskema beskikbaar gestel.
“Dit is vir my lekker om deel te kan wees van hierdie projek, want dis vir die gemeenskap. Voordat ek na Vlakkeland getrek het, het ek in Amstelhof gewoon, en daar was ek ook deel van ’n voedingskema. Ons het daar sommer baie meer mense ook gevoed omdat dit mos ’n groter gebied is.
“Vir nou is die ruimte hier by my huis groot genoeg, maar die getalle groei. Al hoe meer mense kom om van die voedingskema gebruik maak, dus sal ons dalk iewers moet kyk om ’n meer permanente plek op te rig. Ons het genoeg grond daarvoor,” het auntie Maggie vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Kortje sê hul droom is om meer as een keer per week die voedingskema in die gebied te hê, maar hy wil ook graag sien die plaaslike owerhede aan boord kom.
“Hier is geen fasiliteite op die oomblik nie. Hier is byvoorbeeld nie ’n gebou waar ons opleiding kan bied om die probleem van werkloosheid hok te slaan nie.
“As jy net rondom jou kyk, sal jy sien hoe baie jongmense hier ronddwaal. Hulle is werkloos. Ons droom vir Vlakkeland en hierdie gebied is om ’n multifunksionele sentrum op die been te bring waar mense met basiese ambagsvaardighede toegerus kan word.
“Maar vir dit om te realiseer, het ons die private sektor sowel as die plaaslike regering se hulp nodig,” sê Kortje.
Die voedingskema in Vlakkeland is een van vier wat deur Kortje en sy gemeente, die Hope Independent Ministries, bestuur word.
Daar is ook soortgelyke skemas in Eersterivier, Delft en Wesbank.
Volgens Kortje het die vier skemas saam sedert die begin van hierdie jaar sowat 12 500 mense gevoed.