Met kruidenierswarepryse wat ’n voordurende bekommernis en besprekingspunt is, is dit van kardinale belang vir Suid-Afrikaners om bedag te wees op die geld wat hulle bestee.
Volgens die PMBEJD Huishoudelike Bekostigbaarheidsindeks het die koste van die gemiddelde huishoudelike kosmandjie jaar op jaar (Julie 2023 tot Julie 2024) met 3,3% gestyg.
“Namate ons deur finansieel-uitdagende tye probeer stoei, is dit noodsaaklik om elke rand en sent te maak werk – veral tydens ons inkopies en kruidenierswinkel-uitstappies,” verduidelik Carla Oberholzer, ’n ma, dogter, kleindogter, toebroodjiegeslag-verteenwoordiger asook kommunikasiebeampte van CreditSmart Finansiële Dienste.
“Om ons vroue te eer tydens hierdie Vrouemaand en om die spanning van kruidenierswarebeplanning en -inkopies te help verlig, deel CreditSmart sy top-10 wenke om Suid-Afrikaanse vroue te help om hulle kruidenierswarebegrotings goed te bestuur.
“Kom ons werk slim en vol selfvertroue,” stel Oberholzer voor.
. Stel jou begroting op en hou daarby: Bepaal jou maandelikse kruidenierswarebegrotingsbedrag (dit sluit die bedrag vir elkeen in jou huishouding in, byvoorbeeld R1 200) en gebruik beskikbare begrotingshulpmiddels (hetsy ’n begrotingstoepassing op jou foon of templaat op jou rekenaar wat jy gebruik) om te verseker dat jy nie jou totale maandelikse begrotingsbedrag oorskry nie;
. Beplan maaltye en stel jou inkopielys op: Pen jou/jou gesin se maaltye vir die week of maand neer voordat jy winkel toe gaan. Som elke week se spyskaart vooraf op en skep ’n georganiseerde inkopielys (wat jy kan afmerk) met afdelings soos vleis, blikkieskos en so meer. Dit kan jou help om nie-noodsaaklikhede en impulsiewe aankope te vermy terwyl jy deur die winkelgange beweeg;
. Vergelyk grootmaat- en enkelitem-kruideniersware-opsies – veral wanneer dit by nie-bederfbare goedere kom. Maak seker jy benut net werklike winskopies. Bereken die koste per eenheid wanneer jy tussen individuele items en grootmaat-opsies moet kies;
. Maak seker jy verdien jou winkelspaarpunte en gebruik aanlyn of foontoepassings om spesiale aanbiedinge op kruideniersware en noodsaaklike items op te spoor. Gebruik gereeld jou lojaliteitskaarte om jou punte te verhoog sodat jy jou belonings tydens toekomstige kruideniersware-aankope wanneer jy regtig die finansiële knyp begin voel, kan gebruik. Oorweeg dit om webblad/foontoepassings, soos byvoorbeeld cataloguespecials.co.za of snapnsave, te gebruik om jou te help om meer as net ’n paar rand te spaar.
. Kyk uit vir aanlyn inkopie-opsies en werklike spesiale aanbiedinge. Hou ’n ogie op kruideniersware-aanbiedings in aanlyn of gedrukte koerantadvertensies en oorweeg dit om jou kruideniersware aanlyn te bestel – nie net vir jou gemak nie; jy kan ook sodoende onnodige brandstofuitgawes bespaar;
. Gebruik seisoenale produkte: Koop vrugte en groente wat in seisoen is aangesien dit dikwels goedkoper en varser is – wat natuurlik ’n wen-wen-situasie is. Maak seker jy vergelyk jou plaaslike boeremark se pryse met die onderskeie winkels naby jou huis of kantoor;
. Berei jou maaltye in groter hoeveelhede voor – dit kan jou help om voedselvermorsing te verminder deur oorskietkos te vries en jou ook tyd help bespaar wanneer dit by toekomstige maaltydvoorbereiding en uitgawes kom;
. Moet nooit op ’n leë maag winkels toe gaan nie – dit sal help om talle versoekings te weerstaan en ongesonde koskeuses en enige onbeplande aankope te vermy. Let wel: Die snoeperye naby die betaaltoonbanke is daar vir ’n rede!
. Wenk: Gebruik gepaste grootte inkopiemandjies/-trollies en herbruikbare inkopiesakke. Wanneer jy slegs vir ’n paar items inkopies doen, kies ’n kleiner mandjie om onnodige aankope van die hand te help wys. En moenie vergeet om jou eie inkopiesakke saam te neem winkel toe nie sodat jy ’n bykomende paar rand kan spaar. Onthou, selfs die geringste ding of gedrag kan mettertyd tot aansienlike besparings bydra.
. Gaan jou strokie na. Maak seker jy betaal nie vir enigiets ekstra nie – met ander woorde, daardie items wat jy nié in jou inkopiemandjie gevoeg het nie. [Kyk ook dat die prys wat die kasregister aandui, dieselfde as die prys op die rak is.]
“Hierdie praktiese wenke en raad kan jou bemagtig om, bewustelik, keuses te maak wanneer dit by die bestuur van jou kruidenierswarebegroting kom, asook met noodsaaklike aankope wat jy elke maand moet behartig.
“Namate ons hierdie Augustus Vrouemaand vier, erken ons die uiters belangrike rol wat jy as die steunpilaar van jou huishouding en as finansiële besluitnemer vervul. Namate wat jy in die gewoonte van ‘geldvaardigheid’ kom, verseker jy nie net om slim met jou geld te werk nie, maar vestig jy ook ’n finansiële stabiele vooruitsig vir jouself en jou geliefdes. Gelukkige Vrouemaand en geniet daardie kruideniersware-uitstappies,” sê Oberholzer.