Ten spyte van groot opgewondenheid onder inwoners en beloftes dat die Poskantoor sy deure op 15 Augustus in die Paarl se middedorp sou oopmaak, is hul deure steeds dig toe.
Oudergewoonte is die personeel van Paarl Post gewoond daaraan dat inwoners dikwels die koerant se kantoor verwar met dié van die poskantoor en word hulle verwys na die regte gebou.
’n Inwoner het dit egter onder Paarl Post se aandag gebring dat die Poskantoor, wat sy deure in die Hoofstraat sou oopmaak, presies daar waar dit jare gelede was, steeds nie oop is nie.
By navraag aan die Suid-Afrikaanse Poskantoor het Johan Kruger bevestig dat die poskantoor nog nie oop is nie.
Volgens Kruger is daar probleme om die rekenaars na die nuwe gebou oor te plaas en om dit aan die netwerk te koppel.
Kruger kon nog nie ’n datum gee vir wanneer die poskantoor wel sal oopmaak nie. Tot dan kan inwoners steeds gebruik maak van die poskantoor in Paarl-Oos, wat geleë is by die kompleks van die Paarl-Oos se Spar.

