Hugenote Hoërskool in Wellington het sy deure op Donderdag 11 Junie gesluit tot verdere kennisgewing, nadat twee gr.12-leerders positief toets vir Covid-19.
Die skool het ouers en leerders in vanoggend skriftelik in kennis gestel van die situasie wat hulle tans in die gesig staar.
In die brief sê skoolhoof Wikus Naudé dat dit volgens al hulle aanduidings blyk die leerders nie in die skool by mekaar aangesteek het nie, maar het afsonderlik die virus opgedoen.
“Die eerste leerder se toetsuitslag is Woensdagaand, 10 Junie, ontvang. Haar laaste dag in die skool was op Donderdag, 4 Junie. Die tweede leerder se toetsuitslag is Donderdagoggend, 11 Junie, ontvang en sy laaste dag in die skool was Dinsdag 9 Junie,” verduidelik Naudé.
Met die ontvangs van die twee leerders se toetsuitslae, het die skool onmiddelik alle prosedures gevolg wat voorgeskryf is deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die skool se Covid-19-beleid.
Naudé voeg ook by dat die skool onmiddelik gesluit het nadat die kringbestuurder dr. Fernoldt Galant dit so aan beveel het. Hy het verder beklemtoon dat die leerders se veiligheid uiters belangrik is en hul eerste prioriteit is.
“Tans wag ons vir die WKOD en departement [van] gesondheid om aanbevelings te maak rakende die skoonmaak van die gebou en terugkeer van leerders na die skool.”