Soos verneem in die gedrukte en sosiale media “het Wellington se nagskuiling uiteindelik oopgemaak”. Dit is volgens berigte met groot gejuig deur die burgemeester en sy span sogenaamde leiers geopen.
Selfs die DA se Chris Hunsinger klim op die wa met ’n groot gejuig hoe wonderlik die DA binne Drakenstein is.
Ai my jinne, mnre. Poole en leiers, julle het die pot so ver misgesit dat julle moet pasop om wakker te skrik en uitvind jul koffie is koud.
Julle het duidelik geen benul wat daar aangegaan het en wie jare agter die skerms gewerk het nie.
Is dit nie dieselfde DA wat die ou Arendsnes ’n paar jaar gelede toegemaak het nie? Verduidelik aan die inwoners hoe u kan juig om ’n nagskuiling oop te maak as jy een toegemaak het.
Ek let op dat daar bedankings gemaak word aan almal wat by hierdie projek betrokke was, maar hul name word nêrens genoem nie . . . of het die papiertjie waarop die name in die bekendstellingstoespraak verskyn, net verdwyn?
Ek wonder selfs of enige van die politici daar teenwoordig met die opening enige name van die haweloses geken het?
Steeds bly dit ’n geheim presies wie dié nagskuiling gaan bestuur en hoeveel geld betrokke is – of is dit ook ’n staatsgeheim?
Paarl Post rig deurgaans navrae aan die Drakenstein-munisipaliteit oor die Wellington-nagskuiling, die bestuur daarvan en verdere vooruitsigte vir die voorsienbare toekoms. Verslaggewing en verdere ondersoek tot die nagskuiling duur voort. – Red.




