Dit is amptelik ’n maand ná die verkiesing. Nietemin hang verkiesingsplakkate steeds aan lamppale in Drakenstein, ten spyte van die munisipaliteit se verordeninge wat stipuleer dat plakkate 10 dae ná ’n verkiesing verwyder moet word.
Dié verordeninge stipuleer dat die politieke party wat sy plakkate opgerig het, dit moet verwyder, of, alternatiewelik, die Drakenstein-munisipaliteit, wat dan sy koste van die politieke party se deposito van R5 000 sal verhaal.
Voorbeelde van verkiesingsplakkate wat steeds in die Drakenstein pronk, sluit in Hoof- en Oosboschstraat in die Paarl, sowel as Jan van Riebeeck-rylaan tussen die Paarl en Wellington, asook dele van die R44 tussen Wellington en die Paarl.
Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van openbare veiligheid en waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, het op 14 Mei aan die Paarl Post verduidelik hoe die verordeninge beloop:
- Voordat verkiesingsplakkate vertoon word, moet die politieke party die Drakenstein-munisipaliteit ’n deposito van R5 000 betaal, waarvan 85% aan die party terugbetaal word indien hulle die plakkate binne 10 dae na verkiesingsdag verwyder;
- Die plakkate mag nie groter as 80 cm x 50 cm wees nie en moet ’n stewige rugkant hê;
- Die plakkate moet twee meter bokant die grondvlak opgerig word;
- Een plakkaat per politieke party per paal word toegelaat;. Geen plakkate mag op bome, verkeers- en bestaande advertensietekens, verkeersligte, voetganger-eilande, munisipale geboue of brandkraanidentifikasietekens aangebring word nie. Die plakkate moet ook nie die uitsig van verkeersligte of verkeerstekens belemmer nie; en
- Die betrokke party moet sy plakkate in stand hou en beskadigde plakkate verwyder of vervang.
Dit is dus, volgens die Drakenstein-munisipaliteit se verordeninge, die munisipaliteit se mandaat om oorblywende verkiesingsplakkate te verwyder en ’n ooreenkoms met die politieke party(e) moet aangaan om ’n gedeelte of die volle bedrag van die deposito te verhaal.
Barnard het op opvolgvrae gesê die munisipaliteit het “reeds al die verkiesingsplakkate wat van die grond af bereik kon word, verwyder”.
“Die oorblywende plakkate is baie hoog op teen die pale en word sedert 21 Junie deur die munisipaliteit se elektro- tegniese dienste verwyder.
“Verkiesingsplakkate van die ANC, Al-Jama-ah, Bosa, MK en Rise Mzansi was ná die sperdatum steeds op die pale, en daarom het hulle hul deposito’s verloor,” het Barnard verduidelik.
Paarl Post het egter deur die Paarl se strate gery en ook verskeie plakkate van die DA, VF Plus en die Good-party teëgekom.