Die polisiebeampte van die Paarl-Oos-polisiekantoor, vermoedelik ‘n adjudant-offisier, wat vir beweerde verkragting in hegtenis geneem is, se saak is voorlopig teruggetrek hangende die finalisering van die uitstaande ondersoek.
Dit is volgens Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NPA).
Ntabazalila het nie ‘n datum gegee wanneer die ondersoek afgehandel sal word nie.
Die polisiebeampte het die afgelope Maandag (9 Junie) in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hy, na bewering, twee aangehoudenes in die Paarl-Oos-polisieselle verkrag het. Paarl Post het in sy uitgawe van 8 Mei hieroor berig (“Twee glo in selle verkrag”).
Die koerant het na die Paarl-Oos-polisie uitgereik om te hoor of die polisiebeampte hangende die misdaad- ondersoek tans steeds by die polisiekantoor in diens is, maar het geen terugvoer ontvang nie.
Inligting wat die Paarl Post ontvang het, dui wel daarop dat die polisiebeampte, wie se identiteit aan die Paarl Post bekend is, nie geskors is nie en nadat hy op borgtog vrygelaat is, weer by die Paarl-polisie ingeval het.
Volgens Phaladi Shuping, ‘n woordvoerder vir die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), word die beweerde oortreding nie deur dié liggaam ondersoek nie.
Shuping het egter nie ‘n rede hiervoor gegee nie.
Op tuisbodem ondersoek die Paarl- streekhof tans drie verkragtingsake teen polisiebeamptes, asook ‘n saak van moord teen ‘n polisiebeampte wat na bewering sy eie baba doodgeslaan het.
Die Stellenbosch-streekhof ondersoek ‘n moordsaak teen ‘n polisiebeampte wat glo sy vrou doodgeskiet het.
Hierdie inligting is deur ‘n betroubare bron bevestig.
Paarl Post het verlede jaar ook berig oor drie plaaslike polisiemanne wat by verkragtingsake betrek is.