Foto ter illustrasie. Foto: Argief


WAARSKUWING: Die volgende artikel bevat grafiese inhoud wat sensitiewe lesers kan ontstel.

’n Konstabel verbonde aan die Paarl-polisiekantoor is Maandag (10 Junie) op R1 000 borgtog vrygelaat nadat hy verlede week in hegtenis geneem is oor bewerings van seksuele aanranding van ’n 23-jarige student van Klapmuts wat glo weens diefstal in dié polisiekantoor se selle aangehou is.

Die student, wie se identiteit aan Paarl Post bekend is, is Woensdag 4 Junie in hegtenis geneem nadat sy op heter daad betrap is terwyl sy glo ’n vibrator by ’n apteek in die Paarl wou steel.

Sy is toe in die Paarl-polisiekantoor se selle aangehou voor haar hofverskyning die volgende dag. Dit is glo hier waar die konstabel haar gevra het om orale seks op hom uit te voer.

Ons was die enigste twee mense wat in daardie stadium in die selle was. Ek het vir my beddegoed gaan kry en dis toe hy sy broek losgemaak en op mondelinge seks aandring.

Die student het vandeesweek in ’n eksklusiewe onderhoud met Paarl Post oor haar ervaring gepraat.

“Ons was die enigste twee mense wat in daardie stadium in die selle was. Ek het vir my beddegoed gaan kry en dis toe hy sy broek losgemaak en op mondelinge seks aangedring.

“Ek het magteloos gevoel en moes dit toe maar doen. Ek is sopas in hegtenis geneem, so die laaste ding wat ek in daardie stadium wou hê, was seks. Ek kan dus nie verstaan hoekom hy gevoel het dat hy my op daardie oomblik moes misbruik nie,” het die student vertel.

Sy het die volgende dag in die Paarl-landdroshof verskyn en is op borgtog vrygelaat.

Die konstabel het glo WhatsApp-boodskappe aan haar begin stuur.

“Hy het vir naakfoto’s gevra en gesê ek moet weer iets steel sodat ons mekaar weer in die selle kan ontmoet.

“Hy het my aanhou teister en dis toe ek my tannie, wat in KwaZulu-Natal is, oor die gebeure ingelig het.

“Ek het ook besluit om dit uiteindelik met my kêrel, wat in die Paarl woon, te deel. Hy is toe saam met my polisiekantoor toe om ’n amptelike klagte aan te meld.”

Die student studeer landbou­wetenskappe aan die Universi­teit Stellenbosch en het aangevoer die beweerde voorvalle eis ’n tol op haar studies.

“Wat beteken dit nou? Is hy vrygespreek? Gaan ek hom weer in die hof in die gesig moet staar? Ek dink nie ek sien kans daarvoor nie. Ek wil hom nie weer sien nie,” het sy gesê.

Volgens die student sou sy Maandag (10 Junie) berading ontvang het. Sy wag ook op die hospitaal se mediese verslag.

Die Paarl-polisiekantoor het intussen bevestig dat die saak deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word.

You need to be Logged In to leave a comment.