’n Ou bekende by Wellington-polisiekantoor, adjudant-offisier Nico de Villiers, gaan ná meer as veertig jaar die polisiediens vaarwel roep.
Selfs ná al die jare se diens is hy pligsgetrou, lojaal, trots op sy werk en ’n mentor vir die jonger polisielede.
Ná sy skoolloopbaan in die Paarl by die Hoër Handelskool is hy vort na Pretoria vir sy formele polisie-opleiding by die Pretoria Polisie-kollege. Ná kort dienstydperke in Springs en Devon, is hy in 1979 op Wellington gestasioneer, waar hy altesaam sewe-en-dertig jaar diens gedoen het.
Nico is gerespekteerd en bekend onder veral die boere, en hy boesem vrees in by die kriminele.
Tydens sy diensjare was daar nie veel skiet- en mesgevegte soos in die flieks nie, maar hy onthou baie duidelik hoe hulle eendag ’n verdagte geboei het en hoe die verdagte hom aan die arm gebyt het soos ’n hond.
Hoewel hy nie meer die beweeglikheid van vroeëre jare het om kriminele agterna te sit nie, het hy vaardighede ontwikkel om hul op ’n ander manier vas te keer. Wysheid kom immers met grysheid.
Vir hom is daar steeds min dinge wat soveel bevrediging verskaf soos om ’n saak suksesvol op te los.
Een van sy gunsteling-oomblikke was juis om ’n vermoorde se familie in kennis te stel dat die moordenaar aangekeer en agter tralies is. Daar was egter ook vele hartseer tye soos moordtonele, jong kinders wat dood is en mense wat vasgekeer is in voertuie ná ongelukke. Ongelukkig is dit ook deel van ’n polisiebeampte se werk.
Iets wat hom na aan die hart lê, is die kameraadskap met sy medekollegas. ’n Hegte eenheid wat mekaar ondersteun deur goeie en slegte tye. Wat die publiek nie aldag besef nie, is dat die Wellingtonse polisie onderbeman is en dat die lede baie ekstra ure sonder enige vergoeding werk.
Maar Nico voel hy laat die Wellingtonse-polisiediens in bekwame hande. “Daar is genoeg ywerige en hardwerkende dienslede om voortaan ’n verskil te maak,” sê hy.
Vir vier dekades was hy ’n polisiebeampte in murg en bloed, maar vir eers is dit tyd vir rus, agterstallige werk by die huis voltooi en tyd met sy familie deurbring.