Sprake van ’n broodnodige Wellington-polisiekantoor kom al meer as ’n dekade aan, maar die gebou bly bykans presies dieselfde soos wat dit al vir ’n eeu staan, en bars behoorlik uit sy nate uit.
Die Wellington-polisie het in 2010 uitgesien na ’n nuwe perseel nadat Pierre-Jean Gerber, wat toe ’n Wes-Kaapse parlementslid was, ’n dringende brief aan die oudminister van veiligheid en sekuriteit, Charles Nqakula, gerig het waarin hy sy kommer oor die vervalle polisiegebou gedeel het. Gerber het verskeie probleme, en in sommige gevalle lewensgevaarlike omstandighede, in die gebou uitgewys. Maar tien jaar later kom daar steeds kriekgeluide van die departement van openbare werke, wat in beheer van die opknappings behoort te wees, af.
Gerber het destyds geskryf dat die gebou oorspronklik vir 25 lede gebou is, maar die personeel trek nou al oor die 130. Vir dié werksmag is die huis waarin die stasiebevelvoerders gewoon het asook die gewese perdestalle is in kantore omskep en verskeie tydelike kantore is al opgerig.
Binne die hoofgebou skilfer die verf van die mure af, muf kan kol-kol gesien word en die dak lek in die nat wintermaande. In die somer moet polisiepersoneel temperature hoër as 45 grade in tydelike kantore, wat nie meer so tydelik is nie, trotseer. ’n Lugversorgingseenheid is glo in 2010 geïnstalleer, maar kon weens foutiewe bedrading nie aangeskakel word nie.
In die brief skryf Gerber ook dat elektriese bedrading ’n groot bedreiging vir die polisie inhou omdat die kapasiteit oorsky word. In van die vertrekke in die gebou is daar glo net een kragpunt beskikbaar vir verskeie toestelle wat telefoonstelsels, fotostaatmasjiene, faksmasjiene, ketels, rekenaars en waaiers van krag moet voorsien. “Die gebou kan enige tyd afbrand. Die toestande is ondraaglike en ongesond,” het Gerber destyds geskryf.
’n Ongebruikte ondergrondse petroltenk wat 12 000 liter brandstof kan berg, vererger ook die brandvrees. Dit is onbekend of die tenk nog brandstof het, maar Gerber het uitgewys dat dit moontlik in ’n massiewe ontploffing kan ontaard, as daar nog is.
Die dringendheid van die brief het sedertdien op dowe ore geval en die vervalle gebou staan steeds net soos wat dit tien jaar gelede gestaan het.
Die opknappings was volgens Nqakula “een van die topprioriteite in die Wes-Kaap”, maar die departement het ’n jaar later bevestig dat die projek opsygeskuif is vir “meer kwellende prioriteite” vir die departement van veiligheid en sekuriteit.
Die Wellington-polisiepersoneel werk dus steeds in beknopte toestande sonder geriewe of hulpbronne.
• Die departement van openbare werke het teen druktyd steeds nie op Paarl Post se navrae gereageer nie.