’n Snuffelhond het in wat net as ’n heldedaad beskryf kan word, die afgelope Saterdag (15 Februarie) ’n verdagte opgespoor wat in die Bergrivier geskuil het nadat hy glo by ’n huis Noorder-Paarl ingebreek het.
Ondanks die feit dat die verdagte, Fuaad Julies (26), die hond na bewering in die gesig gesteek het, het die hond nie opgegee nie en die verdagte vasgetrek.
Die snuffelhond, bekend as Dante, is van die Boland polisiehonde-eenheid en is ontplooi nadat die inbraak in Bergpypiestraat net ná 17:00 plaasgevind het. Die veiligheidsaatskappy Vetus Schola, asook die Afriforum-buurtwag en die Paarl-polisie, is na die Bergrivier ontbied, waar die verdagte geskuil het.
Volgens kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, is Julies aangekeer en het hy die afgelope Dinsdag (18 Februarie) in die Paarl-landdroshof op aanklagte van huisbraak asook die aanranding van die polisiehond verskyn.
Sy saak is tot 13 Mei vir ’n borgtog-aansoek uitgestel.
Julies is ook in 2023 op ’n vorige aanklag van huisroof in hegtenis geneem, waarna hy in Desember daardie jaar vrygelaat is.
Volgens ’n veiligheidswag, wat op voorwaarde van anonimiteit met die koerant gepraat het, het die inwoners van die huis in Bergpypiestraat ’n man op hul erf gewaar, waarna hy ontsnap en na die Bergrivier gehardloop het – net ’n klipgooi van die Langstraatbrug af.
Hier het hy in die bosse geskuil terwyl hy stuk-stuk van die gesteelde goedere neergegooi het.
Dit het onder andere tegnologiese toestelle, geld en bankkaarte ingesluit.
Volgens die veiligheidswag het die verdagte met die polisie en ander sekuriteitsdienste se aankoms eers in die bosse op die rivierwal geskuil, waarna hy stelselmatig afbeweeg het tot in die water by ’n rietagtige gebied totdat net sy kop uitgesteek het.
Hiér het die polisiehond hom toe uitgesnuffel, waarna die verdagte hom na bewering met ’n mes in die gesig gesteek het.
“Ons het gehoor die hond tjank en gesien hy het bloed aan die gesig,” het die anonieme bron gesê.
Die verdagte het toe die mes neergegooi, waarna hy in hegtenis geneem is en die gesteelde goedere aan die huisbewoners terugbesorg is.
Na wat verneem word, sterk Dante goed aan en is hy nie baie ernstig beseer nie.
Paarl Post het na die Boland- honde-eenheid vir kommentaar uitgereik, maar geen terugvoer ontvang nie.