Mzwandile Tiyo Foto: Argief


Genl.maj. Mzwandile Tiyo, ’n voormalige bevelvoer­der van die Paarl-polisiekan­toor en daarna misdaad-intelli­gensiehoof van die Wes-Kaap, is vandeesweek afgedank te midde van ’n vlaag wanadministrasie-bewerings teen hom.

Dit sluit in dat hy en twee ander beamptes glo hul mag misbruik het deur verdagtes, wat glo sy dienspistool en rekenaar verlede jaar in Mbekweni gesteel het, self op te spoor en hulle aan te rand.

’n Raad van ondersoek is sowat twee maande gelede belê om Tiyo se bevoegdheid te ondersoek.

Die nuus oor sy afdanking is deur Ian Cameron, teen-misdaad-aktivis en voorsitter van die nasionale parlementêre portefeuljekomitee belas met polisiëring, op sosiale media bekend gemaak.

Paarl Post het vroeër vanjaar berig dat Tiyo, ’n inwoner van die Paarl, vir dié en ander bewerings intern én strafregtelik ondersoek word.

Die aanklagte hou verband met ’n voorval by ’n taverne in Mbekweni aan die einde van verlede jaar toe Tiyo se dienspistool en skootrekenaar glo uit sy voertuig gesteel is.

Tiyo het blykbaar nooit die diefstal by die polisie aangemeld nie.

Daar word beweer dat hy sy amp en staatshulpbronne gebruik het om die “verdagtes” op te spoor, te ontvoer, aan te rand en hulle daarvan beskuldig het dat hulle die vuurwapen en skootrekenaar uit sy voertuig gesteel het.

Hy is glo daarna na ’n polisie-afdeling in Gauteng oorgeplaas, wat Paarl Post in daardie stadium nie by navraag by die polisie kon bevestig nie.

Cameron het vandeesweek Tiyo se afdanking verwelkom.

“Dit is goeie nuus in die pogings om die polisiediens skoon te kry.

“Hy is afgedank weens sy ongeskiktheid vir die pos wat hy beklee het.

“Die aanklagte teen hom is strafregtelik van aard en hou verband met ontvoering en dwarsboming van die gereg. Hierdie is aktiewe aanklagte.

“Dit is dieselfde generaal oor wie daar in 2013 bewerings in die media was dat hy polisiebeamptes beveel het om nie verkragtingsake te aanvaar nie, maar dit as blote navrae aan te teken,” het Cameron vandeesweek gesê.

Dit is volgens hom tasbare bewyse dat enige vorm van wangedrag nie binne die polisie aanvaar sal word nie. Hy het ook gesê dit is die eerste stap om geloofwaardigheid in die oë van gemeenskappe te herwin.

Dit sal volgens Cameron ook help om gemeenskappe gemoedsrus te gee dat die polisie hul werk eties sal doen en aan hul gedragskode sal voldoen.

Cameron het gesê dit is onaanvaarbaar dat ’n polisiebeampte eensydig staatshulpbronne gebruik om sy wandade te verbloem.

Die DA in die Wes-Kaap het ook Tiyo se afdanking verwelkom.

“Misdaadintelligensie bly een van die mees noodsaaklike aspekte in die stryd teen georganiseerde misdaad in die Wes-Kaap, en hierdie mees onlangse verwikkelinge gee die polisie die geleentheid om die kwessie uiteindelik ernstig op te neem,” het Thomas Walters, die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskaps­veiligheid, by navraag aan Paarl Post gesê

“Ons doen ’n beroep op die finalisering van die vervolging teen Tiyo sodat ’n duidelike voorbeeld gestel kan word.

“Ons eis ook die aanstelling van bekwame en gekwalifiseerde personeel om ’n hernieude en goed-toegeruste misdaadintelligensie-span in die Wes-Kaap te lei,” het hy verder gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.