Die Wellington-polisiekantoor het inwoners se hulp nodig om sy dienslewering te verbeter.
Die waarnemende stasiebevelvoerder, lt.kol. Boetie Rossouw, vra die Wellington-gemeenskap om eerder die noodnommer, 10111, in noodgevalle te skakel. Dit kom nadat die bestuur talle klagtes van inwoners ontvang het dat die polisie nie op noodgevalle reageer nie.
Volgens Rossouw sal oproepe deur dié nommer die polisie se reaksietyd verbeter en sal dit polisiebestuur toelaat om oproepe van die 10111-sentrum te evalueer.
Hy beklemtoon dat dié versoek nie die gemeenskap verhoed om die Wellington-polisiekantoor te skakel nie, maar hy sê dit sal toelaat dat die polisiebestuur na opnames van klagtes kan luister.
“Ek het ’n oopdeurbeleid en ek wil lede van die gemeenskap aanmoedig om swak dienslewering onder my aandag te bring sodat ek die saak kan regstel,” het Rossouw gesê.