‘n Gesamentlike optrede deur Maitland se blitspatrollie en lede van die Klapmuts-plaaswag het die afgelope Maandag (8 September) tot ‘n groot deurbraak in die stryd teen onwettige drankvervaardiging gelei.
Polisiebeamptes het drankvoorraad en toerusting vir die vervaardiging van alkohol in ‘n huis op ‘n landgoed langs die R44 gevind.
Die beslagleggings het onder meer groot 1 000 liter-houers, bottels, masjiene en etanol ingesluit.
Sewe Somaliërs (vyf mans tussen 25 en 43 jaar oud), asook twee vroue (albei 20) is vir beweerde oortredings van die drankwet in hegtenis geneem. Hulle sal luidens ‘n verklaring deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ná formalisering van die aanklagte in die Paarl-landdroshof verskyn.
Volgens Erica de Villiers, ‘n woord-voerder vir die Klapmuts-plaaswag, het plaaswaglede die blitspatrollie met twee vurkhysers ondersteun, wat aangewend is om die groot hoeveelhede drank en toerusting op ‘n vragmotor te laai.
Sy het bevestig dat die onwettige voorraad tot laat die aand verwyder is – die optrede was eers teen 23:00 afgehandel, ná ure se beslaglegging, wat reeds om 20:00 begin het.
Volgens inligting wat die koerant bekom het, is die woning waar die onwettige drank aangetref is, glo verhuur, met die verhuurder wat moontlik by die bedrywighede betrek word.
Die huurder is nie een van die sewe mense wat in hegtenis geneem is nie, omdat hy nie by die huis was ten tyde die polisie se besoek nie.
Paarl Post het na die Klapmuts-polisie uitgereik om onder meer vas te stel of die Somaliërs wettig in Suid-Afrika is, asook om die datum van hul eerste hofverskyning te kry, maar het geen terugvoer ontvang nie.


