Foto dien as illustrasie en hou geen verband met feitlike gebeure.Foto: Niek Verlaan (Pixabay)


’n Hoërskoolleerder en sy pa is laat Woensdagaand voor hul huis in Hoofstraat, Paarl, aangeval.

WhatsApp-boodskappe oor die geval, waarby ’n gr.11-leerling en sy pa na bewering deur een man aangeval en gesteek is, is Donderdagoggend wyd op gemeenskapsgroepe versprei.

Dit het gelei na ’n Facebook-inskrywing deur die administrateur van die Paarl Pals-groep, Ilde Naude-Meyer, wat melding van die insident sowel as waarskuwing oor toenemende misdaad in die gebied gedeel het.

“Die seun en sy pa was glo voor hul huis in die Hoofstraat met ’n mes gesteek. Hulle is na Mediclinic Paarl vir behandeling geneem,” het Ilde aan Paarl Post vertel.

“Die insident was op ’n bekende skool in die gebied se gebedsgroep gedeel, sowel as die Paarl-Noord-buurtwag groep. Daar word beweer dat die aanval deur een man tydens beurtkrag gepleeg is.”

Die woordvoerder van Paarl-polisie, kapt. Louise du Plessis, sê alhoewel polisielede by die hospitaal ondersoek ingestel het, het beide die slagoffers en hul familie op die toneel geweier om verklarings af te lê.

“Op die stadium kan geen feite deur polisie bevestig word nie. Ons polisiespeurders gaan vandag (Donderdag) verdere ondersoek instel om die omstandighede van die voorval te bevestig,” sê Du Plessis.

Naude-Meyer het bygevoeg dat dit die tweede messteekvoorval is wat in die afgelope twee weke in Noorder-Paarl gerapporteer is.

Hierdie is ’n brekende-nuusstorie wat in diepte in die volgende uitgawe van die Paarl Post gedek sal word.

  • A local high school learner and his dad was allegedly stabbed by a man late on Wednesday evening in the Main Road, Paarl. Warnings and posts about the incident circulated on social media, however Paarl police spokesperson Capt Louise du Plessis said that neither the victims or their relatives on scene wanted to lay a charge with investigators. Investigation continues to confirm circumstances.

You need to be Logged In to leave a comment.