‘n Polisievoertuig van die Paarl-polisie was Donderdagaand in die parkeerterrein van die munisipale gebou in die Paarl te sien.

Rasaad Adams

Conrad Poole, Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, asook Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, het albei amptelike klagtes by die polisie aanhangig gemaak nadat dié twee glo doodsdreigemente ontvang het.

Paarl Post verstaan dat veiligheid by albei amptenare se wonings opgeskerp is, op die bevel van die munisipale raad se Speaker, Koos le Loux.

Le Roux het Donderdag (15 Februarie) dié bewerings in ’n verklaring aan raadslede bevestig.

In die verklaring, wat Paarl Post bekom het, sê Le Roux die beweerde doodsdreigemente is glo oor die afgelope paar dae gemaak.

“In reaksie hierop het ons talle maatreëls ingestel om die persoonlike veiligheid en welstand van hierdie ampsdraers te verseker.

“Beide die uitvoerende Burgemeester en die Stadsbestuurder het amptelike klagtes by die Suid-Afrikaanse Polisiediens geregistreer en dossiere is oopgemaak,” lui die verklaring.

Hy sê die munisipaliteit werk nou saam met die betrokke owerhede – in ooreenstemming met die heersende wetgewende bepalings – om die ondersoekproses te vergemaklik.

Volgens Le Roux word hy deurlopend op hoogte gehou rakende enige verwikkelinge.

Paarl Post het Donderdagaand die Burgemeester se woning in Paarl-Oos besoek, waar ’n bakkie met twee mans buite die woning geparkeer was.

Die koerant vermoed dit is twee privaatsekuriteitswagte wat deel vorm van die Speaker se veiligheidsinstruksies.

By die munisipale hoofkwartier in die Paarl was daar ook Donderdagaand ’n polisievoertuig met twee beamptes in die parkeerterrein.

Die motief of aard van die doodsdreigemente is in die stadium nog onbekend.

Paarl Post het uitgereik na die plaaslike polisie vir kommentaar, wat bygewerk sal word sodra die koerant dit ontvang.

* Hierdie is ’n ontwikkelende storie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article