Saterdagnag (10 Junie) het ’n bekommerde Wellingtonner kort voor middernag op Facebook ’n inskrywing gedeel waarin hy vertel dat iets in die strate geklink het asof daar “sopas vier skote afgegaan het in Bloekomlaan en Pelikaanstraat”.
Hoewel daar aan Paarl Post bevestig is dat dié skrikwekkende klanke nie dié van vuurwapenskote is nie, was dit nogtans ’n voorval van kommerwekkende klipgooiery in die dorp.
Bykomende kommentare op dié inskrywing op die Wellington Aksie Groep (WAG) het getoon dat ander inwoners van so ver as Van Wyksvlei ook die rumoer gehoor het.
“Mannetjies wou nog begin met hul klipgooiery. Ek moet sê die openbare orde polisiëringseenheid (POPs) was gou op die toneel en toe is als weer rustig,” sê ’n inwoner in ’n Facebook-inskrywing.
Wellington-polisie se bevelvoerder, kol. Johan Barkhuizen, het Paarl Post intussen meegedeel dat dit inderdaad ’n poging tot klipgooiery behels het. Orde is kort ná POPs se aankoms op die toneel herstel.
“POPs was spoedig op die toneel, en het die betrokke klipgooiers met skokgranate uiteengejaag,” het Barkhuizen bevestig.