Die Paarl-Oos-polisie moedig lede van die gemeenskap aan om saam te werk om misdaad in dié gebied hok te slaan.
Dit volg nadat 35 mense verlede naweek in Paarl-Oos in hegtenis geneem is.
Volgens kapt. Basil Seekoei, ’n woordvoerder vir die Paarl-Oos-polisie, is die inhegtenisnemings uitgevoer in ’n poging om ernstige en gewelddadige misdade in dié polisiëringsgebied hok te slaan.
“As gevolg van polisieoptrede, tesame met die polisie se opsporingslede, is verskeie verdagtes vir handel in alkohol sonder ’n lisensie asook die onwettige handel in dagga en dwelms in hegtenis geneem. Vier verdagtes is aangekeer vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en diefstal.”
Kol. Liticia Hans het beamptes geprys vir hul toewyding, wat uitstaande resultate opgelewer het.
“Die inhegtenisneming van verdagtes en die ontwrigting van misdadige aktiwiteite is ’n bewys van beamptes se verbintenis tot geregtigheid. Hul onbaatsugtige diens het ’n tasbare uitwerking op ons gemeenskap.”
Die 35 mense wat in hegtenis geneem is, sal op verskeie aanklagte in die Paarl-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla is.
Seekoei het bygevoeg dat geen ernstige geweldsmisdaad oor die naweek van Vrydag (26 Julie) tot Maandagoggend (29 Julie) aangemeld is nie.
Hans doen verder ’n beroep op die gemeenskap om die polisie te help om misdadigers vas te trek.
“Ons wil die Paarl-Oos-gemeenskap versoek om hand aan hand met die polisie saam te werk.
“Meld alle misdadige aktiwiteite aan wanneer dit gebeur en moenie misdadigers huisves nie.”
. Skakel die Paarl-Oos-polisie by 021 877 5900 of die Stop Misdaad-nommer 0800 10111 om enig misdadige aktiwiteite aan te meld. Indien jy verkies om anoniem te bly, sal die polisie jou besluit respekteer.