Geloofsorganisasies en inwoners van Wellington moet ook by die stryd teen misdaad betrokke raak.
Dít was die beroep van die polisiebevelvoerder van die Kaapse Wynlande, gen-maj. Adré Lincoln, by ’n biddag wat die polisie op Menseregtedag by die Boland-stadion, Wellington, aangebied het.
Lincoln het aan omtrent 100 mense by die byeenkoms gesê gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) soos buurtwagte bly een van die suksesvolste maniere om misdaad te bekamp.
“Daarom moedig ek alle gemeenskapslede aan om by misdaadbestrydingstrukture soos buurtwagte betrokke te raak. Ek doen ’n beroep op gemeenskapslede om die stilte oor misdaad te breek.”
Inwoners van uiteenlopende ouderdomme en verskillende gemeenskappe het die byeenkoms bygewoon en teen misdaad gebid en lofprysing gedoen. Van die ander sprekers by die byeenkoms was Conrad Poole, die burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit, en verskeie ander leiers van die gemeenskap.
Lincoln het sy kommer uitgespreek oor die huidige misdaadneiging in Wellington.
“Wellington kort hulp om rooftogte, aanranding, huisbraak en diefstal hok te slaan.”
Hy het die Wellington-polisie bedank vir hul inisiatief om die biddag aan te bied en om ook gemeenskappe byeen te bring en verhoudinge met die gemeenskap te bou.