Pniël Villagers se Whites het vriend en vyand verlede Saterdag verras deur die rugbyspan van Albions in ’n Superliga C-wedstryd in die Dal Josaphat-stadion met 13-6 te klop.
Albions het vroeër vanjaar vir Pniël Villagers in ’n vriendskaplike wedstryd met ’n oorwinning van 38-19 oorskadu. Maar Saterdag het Pniël Villagers die bordjies verhang met klipharde inklimspel en briljante verdediging.
Albions het eerste punte aangeteken met ’n strafskop deur Keenan Williams en kort daarna het die losskakel Herschelle van Rhyn ook ’n strafskop oorgeklits om die telling gelyk te maak.
Albions het goeie aanvalle geloods met die immergroen Lincoln Krieling en Boetie Sherman aan die spits. Ongelukkig is Sherman met ’n rooikaart vir ’n vuishou van die veld gestuur.
Pniël het met goeie teenaanvalle die momentum behou en die heelagter, Cleve Williams, wat ook ’n uitstekende kanovaarder is, was dodelik met sy dartellopies. Ná een van Williams se goeie lopies druk losskakel Herschelle van Rhyn ’n mooi drie wat onverdoel was.
Albions het geantwoord met nog ’n strafdoel deur Keenan Williams om die rustydtelling 8-6 te maak.
Ná rustyd het Pniël Villagers nuwe energie gehad en die flank Christopher Fredericks duik oor in die hoekie vir nog ’n onverdoelde drie, met die telling op 13-6.
Albions se voorspelers het Pniël hoofbrekens besorg met hul goeie dryfmaalbewegings, maar Pniël Villagers se komkommerkoel verdedigingslinie was heelmiddag solied. Uitblinkers aan die kant van Pniël was hul immergroen kaptein, Steve Adams, wat sy troepe heeltyd gemotiveer het, asook Anwill Newman, Cleve Williams, Cameron April en Deano Davids.
Aan Albions se kant was Lincoln Krieling en Craig Watts uitstekend. Hoofafrigter Adrian Cupido is baie ingenome met sy span se onoorwonne vertonings in die liga tot dusver. Eerskomende Saterdag reis die Whites na Vygieskraal in Athlone vir hul wedstryd teen Hamadies.