As gereelde klant vir beide brandstof en ander goedere soos brood en melk lê ek gereeld besoek af by Engen en Woolworths Village Motors in die Paarl.

En keer op keer kry ek baie goeie en vriendelike diens daar – van die kassiere tot die petroljoggies wat my altyd met ’n breë hulpvaardige glimlag groet.

Maar nog ’n pluimpie vir hierdie onderneming is ’n geval wat ek Maandagoggend daar beleef het. Ek was haastig op pad werk toe en moes gou iets gaan koop. Ek vat my kleingeld en is vinnig terug na my motor. ’n Man roep agter my, meneer, meneer, maar ek ignoreer hom in my haastigheid. Die petroljoggie staan by venster en wys ’n R20 noot wat uit my broeksak geval het.

Ek sou heeltemal onbewus daarvan weggery het en hy kon dit net so vir homself gehou het. Maar nee, eerlikheid het ingetree. Ek glo dat die bestuur hier hul mense goed behandel en dus behandel die werkers hul klante ook goed.

Daar is talle ander besighede wat hieruit kan leer.


Gert,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.